Vroueblad vier noenontbyt met Liesel
THABAZIMBI – Die Kwêvoël Vroueblad vier hierdie jaar hul verjaardag in styl wanneer Liesel Krause Wiid, bekende anker aanbieder van In Pas, hul tydens die Vroueblad funksie op Saterdag 3 November kom besoek. Die Kwêvoël Vroueblad vier hierdie jaar hul derde bestaansjaar nadat Lizanda Jacobs, voormalige joernalis van Die Kwêvoël, die eerste Vroueblad in Oktober 2004 die lig laat sien het. Vanjaar se Vroueblad funksie word in samewerking met die Willa Krause groep, wat Argilla pottebakkersware, Essentials juwele en Willa Krause Velsorg insluit, gedoen. Afgesien van die verjaardagviering, is die doel van hierdie funksie om die wenners van die jaar se Bruidsfoto en “Make-Over” kompetisie aan te kondig. Die finaliste is reeds gekies en wag in spanning vir die uitslae wat eers tydens die funksie aangekondig word. Op vanjaar se program is die spreker, Liesel Krause Wiid wat die gaste sal toespreek oor “Leef ‘n oorvloedslewe”. Haar man, ook die uitvoerende direkteur van hul familiebesigheid, die Willa Krause-groep, Siebert Wiid, tree as seremoniemeester op en lewer ook ‘n praatjie in sy hoedanigheid as uitvoerende direkteur oor Entrepreneurskap. Daar gaan geleentheid wees vir ‘n gemeenskapsprojek om aan die gaste bekend gestel te word en verskeie uitstallers sal ook die funksie meedeel. Slegs beperkte aantal kaartjies is beskikbaar teen R100 per persoon wat ‘n driegang ontbyt insluit. Kontak Die Kwêvoël by 014 777 1621, Antoinette Kok by 083 432 3999 of Alta Eloff by 083 530 9308 om ‘n kaartjie te bekom.