Jong ongeluk-slagoffer sterk aan

THABAZIMBI – Die 12-jarige Zani du Toit, slagoffer van ‘n botsing van voor verlede week, is uit haar koma en sterk mooi aan. Volgens ‘n familielid is die familie positief dat geen ernstige of permanente skade tydens die ongeluk opgedoen is nie, maar weet hul nog nie wanneer sy uit die hospitaal ontslaan sal word nie. Die enigste operasie wat sover nodig is, is ‘n kosmetiese operasie op haar oogbank. Zani, ‘n leerling van Laerskool Platinum, het almal laat skrik toe sy in ‘n koma verval het na die ongeluk wat op 16 Oktober sowat 17 km buite Northam plaasgevind het. ‘n Man is dood toe hy ‘n reeks motors verbygesteek het, en nie betyds terug in sy eie baan kon beweeg nie. Zani kan egter al regop sit en het al haar bekommernis oor “laat wees vir skool” laat hoor. Die ander ernstig beseerde persoon in die motor, haar pa, Demsie du Toit, het reeds ‘n operasie ondergaan vir sy gebreekte bekkenbeen. Ten spyte van die feit dat hy waarskynlik nog 12 weke in die hoë-sorg eenheid moet bly om verdere besering aan sy rug en bene te voorkom, is hy positief en vol grappies. Die derde van vyf beseerdes in die motor, tannie Kitta (Jacobs), is reeds uit die hospitaal in Thabazimbi ontslaan.