Fondse nodig om tred te hou met ontwikkeling
THABAZIMBI – Die grootste uitdaging wat vir die bestuurders van Thabazimbi en omstreke voorlê, is om die nodige fondse te bekom, bronne te ontgin en beplanning aan die dag te lê vir die geweldige druk wat ontwikkeling op die omgewing en sy bronne plaas. Dit was, in ‘n neutedop, waarop alle deelnemers van die werkswinkel by Komma Nader Gastehuis verlede week ooreen gekom het. Deelnemers aan die werkswinkel het ingesluit verteenwoordigers van die munisipaliteit, private ontwikkelaars, landbousektor en toerisme. Die druk wat onder andere ontwikkelende mynbedrywighede en toerisme op die infrastruktuur van die dorp plaas, noop belanghebbendes om saam te staan om in die behoeftes van bestaande en toekomstige inwoners en besoekers te voorsien. Volgens die munisipaliteit lê die oplossing buite die inherente kapasiteit van Thabazimbi se Plaaslike Munisipaliteit. Die uitnodiging na die werkswinkel verduidelik dat die fisiese infrastruktuur (soos watervoorsiening, sanitasie, paaie, stormwaterdreinering en afvalbestuur) saam met die bestuur daarvan ‘n oplossing vereis wat buite die huidige vermoë van die munisipaliteit lê.