General

Vliegtuie op soek na steenkool oor Lephalale

Geologiese opnames word binnekort in die Lephalale gebied gedoen. Alhoewel 80% van Suid-Afrika se steenkool van die Witbanksteenkoolveld afkomstig is, word daar egter beraam dat ongeveer 50% van die oorblywende steenkoolreserwes in die Waterbergsteenkoolveld voorkom. Coaltech 2020, navorsingskonsortium tussen die staat en industrie, het die afgelope jare heelwat navorsing op die Witbanksteenkoolveld gedoen, maar na aanleiding van die beplanning van die Medupi- Kragstasie naby Lephalale, het die fokus van die navorsing nou ook na die Waterbergsteenkoolveld verskuif. Coaltech beplan om ‘n geofisiese opname vanuit die lug te doen in die omgewing tussen Lephalale en die Botswanagrens. Die doel van die opname is om meer informasie rakende die geologiese struktuur van die area te verkry. Die navorsing gaan hoofsaaklik op twee geofisiese metodes konsentreer, nl. die magnetiese-metode en die Radiometriesemetode. Die Magnetiese-metode karteer die magnetiese strukture van die gebied soos geologiese gange en verskuiwings. Die Radiometriese-metode karteer hoofsaaklik die groter oppervlakgeologie. Die gebied waaroor gevlieg gaan word, is ongeveer 75 km by 25 km (sien meegaande figuur). Die vliegtuig wat gebruik gaan word, is ‘n Cessna 208. Die vliegrigting gaan Noord-Suid (N-S) wees en die vlieglynspasiëring sal 200 m wees. Die vlieghoogte is 80 m en die vliegtuigspoed is 250km/h. Die opnames word beplan vir einde-Oktober tot begin-November 2007, vliegtyd van ongeveer 30 tot 40 dae. Die gebied word in kleiner porsies van 5km by 5km verdeel en so gedek. Die opnames word gedoen deur die bemanning van Southern Exploration en die Raad vir Geowetenskap. Die Raad vir Geowetenskap se personeel wat die opnames behartig, kan enige tyd geroteer word, en kan enige van die volgende persone insluit: Tiaan Snyman, David Welgemoed, Danie Malan, Mornè Bosch, Alan Grace en Donovan Grace. Coaltech het Woensdag, 26 September 2007, ‘n inligtingsvergadering op Lephalale gehou tydens ‘n vergadering van die Landelike Belastingbetalersforum (LBF) en kenners van die WNNR, Exxaro en die Raad vir Geowetenskap was byderhand om alles te verduidelik. Ge-organiseerde Landbou het onderneem om hulle lede in te lig oor die beplande geofisiese opname. Kontak asb vir Mnr Claris Dreyer van Exxaro in Lephalale of vir Stoffel Fourie (012- 841-3395) van die WNNR in Pretoria as daar enige onduidelikhede of vrae is.