General

Woordkunsprogram nie te versmaai nie

Eugène Marais Klink – 100 Jaar Later – die verhoogstuk wat met woord en sang Eugène Marais se veelkleurige palet huldig, word op Vrydag 9 November om 19:00 by die KunsteGrot op Thabazimbi op die planke gebring. Vanaf 18:30 kan u reeds opdaag. In die hoofrolle is Carel Trichardt, Petru Wessels, Linette van der Merwe en Rouel Beukes. Begeleiding word verskaf deur Ferdi Geyer. Die toonsetting is deur Niel van der Watt. “Hierdie produksie val saam met die honderdste herdenking van Eugène Marais se sterfdatum. Dié woordkunsprogram slaag uitmuntend daarin om vir diegene wat onbekend is met Leon Rousseau se hoog aangeskrewe Marais-biografie, Die groot verlange, ’n beeld te skets van dié begaafde digter, skrywer, verslaggewer en natuurkundige se lewe en nalatenskap. Die fokus val sterk op Marais se indrukwekkende werk as dierkundige, asook op sy persoonlike lewe en veral sy jare lange verslawing aan morfien. Die akteurspaar Carel Trichardt en Petru Wessels se besielde voordrag laat Marais op die verhoog lewe kry as fassinerende wetenskaplike (wie se studievelde uiteenlopende onderwerpe soos primate, akkedisse, brulpaddas, skerpioene, miere en magnetisme, die bonatuurlike en spykerskrif ingesluit het) en skrywer van klassiekgeworde gedigte soos Winternag en Mabalêl. Die voordrag van Marais se Die vaalkoestertjie is ’n besliste hoogtepunt. Niel van der Watt se komposisies is sonder oordaad en laat reg geskied aan ou bekendes soos Winternag, Skoppensboer en Wanneer dit reën op Rietfontein. Beukes en Van der Merwe se vertolkings is ook sonder tierlantyntjies, wat die fokus sterk op die teks laat val. Hierdie is weliswaar een van daardie produksies waarvoor jy die raserige feesgees so ’n wyle buite die teaterdeur moet agterlaat. Uitermate swaarwigtig is dit egter beslis nie – en selfs diegene wat min in die poësie belang stel, sal genot put uit beskrywings van hoe Marais skerpioene en brulpaddas mak gemaak en selfs in ’n stadium ’n sjimpansee, genaamd Sally, in sy woonstel aangehou het. – Jaco Jacobs (Die Volksblad)” Aangesien hierdie ‘n groot produksie is moet reëlings nou reeds getref word. Dit is dus uiters noodsaaklik dat u so gou as moontlik bespreek. Indien die belangstelling te min blyk te wees, sal dit dalk vir eers gekanselleer moet word. ‘n Spesiale aanbod is ook hier van toepassing: Koop ‘n kaartjie en kry die tweede halfprys. Onthou, alle sitplekke moet bespreek word. Skakel dus nou vir Rita by 083 744 8559 en bespreek jou plek.