Geen versekering van bystand vir boere vanaf Eskom
THABAZIMBI – Mnr Japie Lötter van die Thabazimbi Distriks Landbou-unie het in ‘n mediaverklaring boere aangeraai om, weens persoonlike blootstelling en finansiële implikasies, nie betrokke te raak by enige saak van kabeldiefstal nie, al het die versoek vir bystand van Eskom personeel gekom. Volgens Lötter is daar duidelik aan die DLU, na telefoniese skakeling met die regsdienste van Eskom, mnr Edwards, gestel dat ten spyte daarvan dat die hulp van boere op direkte versoek vanaf Eskom personeel kom, hulle geen bystand sal lewer indien boere wat met kabel of telefoondraad diefstal sake help, beseer word of hulle eiendom beskadig sou word nie. Volgens die verklaring het Edwards geweier om hierdie stelling op skrif te bevestig. Hierdie hulp word in menige gevalle verleen , ten koste van die persoonlike veiligheid van boere wat hulp verleen. Die DLU van Thabazimbi se aanbeveling aan boere is dus om nie by sulke sake betrokke te raak nie, weens die persoonlike blootstelling aan finansiële verliese, indien sake skeef loop. Optrede vind op eie risiko plaas sonder enige bystand vanaf Eskom en Telkom. Alle kostes rakende beserings en skade moet dan self gedra word. Boere is bereid is om vir Eskom en Telkom behulpsaam te wees, mits na hulle finansiële risiko omgesien word, wanneer hulp versoek word vanaf Eskom en Telkom. Sodanige hulp wat tot op hede verleen is, het in vele gevalle gelei tot arrestasies en skuldigbevinding, ten spyte van persoonlike veiligheid. Die verklaring lui voorts dat geen kontak kon nog tot hede met die verantwoordelike persoon van Telkom gemaak word nie. Dieselfde scenario word met Telkom voorsien in die geval van diefstal van telefoonkabels en lyne.