Belasting op landbougrond
Plaaseienaars moet hulself vergewis van nuwe belastingwet
THABAZIMBI – Inwoners wat eiendom besit betaal huidig eiendomsbelasting wat gehef word in terme van Ordonnansie 11 van 1977. Die eiendomswaardasierol wat gebruik is in terme van die Ordonnansie, is gebaseer op die markwaarde (grondwaarde) van die eiendom. Die totale waardasierol word dan gebruik vir die berekening van die eiendomsbelasting tariewe, met inagneming van die begrotingsbehoefte van die Stadsraad. Tot op hede is die landelike gebiede vrygestel van die betaling van belasting. Die Munisipale Belasting Wet maak voorsiening vir die uitfasering van die eiendomsbelastingstelsel wat gegeld het onder die Ordonnansie. In terme van hierdie Wet moet Stadsrade binne vier jaar die Ordonnansie uitfaseer en aan die vereistes soos in hierdie Wet bepaal, voldoen. Thabazimbi Stadsraad het hierdie proses begin, met die doelwit om die bepalings van die Wet op 1 Julie 2008 te implementeer. Die drie wesenlike bepalings van die Wet is die volgende: Die goedkeuring van die belastingbeleid vir implementering; ‘n Nuwe waardasierol van eiendom moet opgestel word. Die basis van waardasie is die totale markwaarde van die eiendom ten tyde van waardasie, op die beginsel van gewillige koper/verkoper (wat verbeterings insluit); Eiendomsbelasting word uitgebrei om die landelike gebied in te sluit. Die Wet verskaf duidelike riglyne oor die vereistes waaraan die beleid moet voldoen. Verder kan geen waardasies plaasvind, nie alvorens die beleid goedgekeur is nie. Die beleid moet jaarliks hersien word en goedkeuring kan slegs plaasvind nadat ‘n proses van openbare deelname plaasgevind het. Die dokument moet die Stadsraad se beleid aanstip ten opsigte van vrystellings van die betaling van belasting, asook kortings en afslag wat gegee word aan belastingbetalers. Na goedkeuring van die belastingbeleid kan die Stadsraad tenders aanvra vir die opstel van die waardasierol. Die waardeerder moet gekwalifiseerd en geregistreerd wees by die relevante liggaam. Waardasies moet gedoen word op die beginsel van gewillige koper/ verkoper beginsel en die waardasie sluit alle nie-roerende verbeterings soos in die Wet voorgeskryf is. Tydens waardasie mag die waardeerder massa-waarderings tegnieke gebruik, asook fisiese inspeksie van die eiendom doen. Die waardasierol, na voltooiing moet gepubliseer word vir kommentaar deur die Stadsraad. Indien probleme bestaan ten opsigte van ‘n spesifieke eiendom, moet dit deur die waardeerder aangespreek word. Indien die probleem bly voortbestaan, maak die Wet voorsiening vir ‘n appèl prosedure. Landbougrond word ingesluit by die betaling van eiendomsbelasting. Voorsiening word gemaak dat die belasting oor drie jaar infaseer word. Vir dienste gelewer deur die Stadsraad, word voorsiening gemaak vir kortings en afslag wat toegestaan kan word. Ten opsigte van die definisies in die Wet, word eko-toerisme, wild en wildjagboerdery nie as landbou beskou nie. Dit veroorsaak dat die gemelde bedrywe nie vir kortings en afslag kwalifiseer nie. In 2006 publiseer die Stadsraad ‘n belastingbeleid vir die periode 1 Julie 2006 tot 30 Junie 2007, vir kommentaar voor 19 Junie 2006. Die Distrik Landbou-unie van Thabazimbi het op die dokument kommentaar ingedien wat tydens goedkeuring totaal ignoreer is. Die beleidsdokument het geensins aan die vereistes voldoen soos in die Wet voorgeskryf is nie, asook die riglyne wat uitgevaardig is as ‘n handleiding vir die implementering van die beleidsdokument nie. Gedurende Oktober 2006 word tenders aangevra vir waardeerders om die waardasie-rol van die Stadsraad op te stel, in terme van die genoemde Wet. Die advertensie dui aan dat die voltooide waardasie-rol op 31 Januarie 2008 ingedien moet word. Koth Property Consultants was die suksesvolle tender deur die Stadsraad aangestel om die waardasie-rol op te stel. Die maatskappy is huidig besig om die taak uit te voer. Die grootste werk vir die waardeerder sal wees om die totale landbougebied te waardeer wat oor ‘n area van ongeveer 980 000 hektaar versprei is. Die Stadsraad het weereens die beleidsdokument hersien en publiseer (13 Julie 2007), vir implementering op 1 Julie 2008. Kommentaar word nou op die dokument ingewag. Publieke deelname en insette is krities nodig om te verseker dat hierdie dokument eerstens aan al die vereistes soos in die Wet voorgeskryf is, voldoen en tweedens dat die Stadsraad duidelik uitstip sy beleid ten opsigte van vrystelling van belastingbetaling asook die reëls wat sal geld by die toestaan van belastingkortings en –afslag. Eienaars van landbougrond wat deur hierdie wetgewing ook nou belastingbetalers word, word versoek om hul adresse en telefoonnommers aan die Raad bekend te maak aangesien die onus op die plaaseienaar is om dit te doen.