Entertainment

Vaalwater vat vlam

VAALWATER – Die klein dorpie Vaalwater in die hartjie van die Waterberg Biosfeer lyk op die oog af na ‘n slaperige plattelandse plekkie. Maar moenie mislei word nie, die inwoners van Vaalwater is behoorlik aan die brand, en hulle is nou gereed om die wêreld te wys. Donderdag, 9 Augustus, gister, het hulle met hul Kampvuurfees begin en dit hou aan tot more, Saterdag 11 Augustus. Die fees word in die midde-dorp by die Ojaco krale gehou. Die fokus van die fees is “Back to basics”, met die klem op toerisme in al sy fasette. Die organiseerders voel dat die bedoeling van die Fees is om gesellige gesinsverkeer met ‘n Christelike inslag. Toerisme in die Waterberggebied is besig om teen ‘n geweldige tempo te groei en die Fees sal aandag gee aan die gebied, sy mense en sy unieke eienskappe. Dit sluit in: Avontuur- en ekotoerisme, jag en visvang, voëlkyk en boombesigtiging, 4×4 en vierwielroetes, bergfietse en staproetes, kultuurtoerisme, dagtoere, donkiekar, perde en olifantritte, rehabilitasiesentrums vir Wild, en nog vele meer. Daar sal spesifiek voorsiening gemaak word vir handgemaakte kuns en interessante gebruiksartikels. Vir gister se Vrouedag is ‘n spesiale program vir al die dames aangebied. Die program is verder propvol aksie en vermaak, asook ‘n babakompetisie, Mej Vlammetjie en Mnr Vonk vir die kleinspan en natuurlik, Mej Vuurvlam 2007. ‘n Potjiekoskompetisie is ook op die program, want wat is ‘n kampvuur nou sonder ‘n watertand potjie. Die Boereworskompetisie sal almal laat bontstaan. Pryse word toegeken word vir die geurigste, die langste en die warmste wors in die Waterberg. ‘n Natuurralley is ‘n wedren met ‘n verskil. Nie net die voertuie nie, maar veral die bestuurders en hul span se kennis, insig en vernuf word behoorlik getoets. Die reëlings word hanteer deur Campfire Festivals CC. ten bate van die gemeenskap. Enige navrae kan gerig word aan 014-7554567 of 0732565890. Die naweek is nog nie verby nie, skakel gerus en gaan kyk wat hulle op Vaalwater aanvang.