Jy rook jou eie kinders dommer!
Ouers wat rook benadeel meer as net hul kinders se gesondheid, skryf Tienie Holtzhausen. Dit beïnvloed ook hul skoolwerk en intelligensie. Dr Louis Havenga, ‘n mediese navorser en kampvegter vir strenger rookwete is verheug oor die nuutste voorstelle van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid. Dié liggaam het vroeër vanjaar in Kaapstad aanbeveel dat die huidige rookwette in lyn met die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aangepas word. Soos dat daar nie in ’n motor gerook mag word waarin daar ’n passasier jonger as 12 jaar is nie. Die WGO sê kinders wat weens hul ouers se gewoontes rook by hul blyplek móét inasem, sukkel dikwels meer met wiskunde, abstrakte denke en leesvaardighede op skool. Behalwe die direkte gevolge wat tweedehandse rook op die breinkapasiteit van kinders het, is dit ook ’n indirekte oorsaak van swakker skoolprestasies aangesien statistieke bewys dat kinders van rokende ouers meer skooldae mis as nierokende ouers se kinders. Statistieke wys ook dat kinders in rokende huise meer middeloorontsteking kry as ander, hul verkoues veel gouer omsit in longontsteking, meer van hulle aan asma ly en hulle ook nie vinnig gesond word as hulle siek was nie. Van die belangrikste navorsing oor die effek van tweedehandse rook op kinders word met behulp van bloedtoetse gedoen om die teenwoordigheid van giftige stowwe te bepaal. Dié het gewys dis veral die yster- en loodvlakke van sulke kinders wat gevaarlik hoog is. Dit verlaag hul algemene weerstand teen siektes. Kinders wat in nie-rokende huise grootword, leef swaar as hulle skielik in ’n rookomgewing geplaas word en kry dan maklik oogirritasies, hoofpyn en keelseer. Kommerwekkende toetse oor die effek van rook op ‘n fetus is in 1991 deur dr Tony Roy van Indië gedoen en in die Journal of Neurotoxicology gepubliseer. Hy het gevind dat rokende swanger vroue se kinders in baie gevalle kleiner breine en swakker skakelpunte tussen breinselle het. Hoe meer sigarette ’n ma ook gerook het tydens swangerskap, hoe groter die kans dat haar kind gedragsprobleme sal toon op kleuter- en laerskool. Dít sluit in veral aggressie en angstigheid, hiperaktiwiteit, aandagafleibaarheid, laer IK’s en swakker skoolprestasies.“ Menige kind op Ritalin kon dit gespaar gewees het as hul ma’s nie tydens swangerskap gerook het nie,” meen Havenga. Die algemene opvatting dat as jy rook jy net jouself benadeel is toe nie op die ou end waar nie.