Eiendomsbelasting in die laaste pylvak
Elana Greyling Eiendomsbelasting maak die meeste grondeienaars sommer onmiddellik warm onder die kraag. Die tyd raak min vir die implementering hiervan. Teen Julie 2008 sal die nuwe waardasierolle beskikbaar moet wees in onder andere die Lephalale gebied. In Thabazimbi word daar tans gewerk aan ‘n waardasierol. ‘n Aanvanklike beleidsdokument is verlede jaar goedgekeur, maar het soveel teenstand van grondeienaars en ander rolspelers gekry, dat daar huidig na ‘n aanpassing gekyk word. Nog ‘n probleem wat in Thabazimbi ervaar word, is die feit dat daar nog nooit voorheen belasting op die landelike eiendomme (plase, ens) gehef is nie en daar dus nie ‘n verwysingsraamwerk hiervoor bestaan nie. ‘n Ope vergadering is onlangs in Lephalale gehou om die belangrike kwessie te bespreek. Munisipale afgevaardigdes was verras deur die goeie opkoms by die vergadering. Plase en ander landelike gebiede resorteer nou onder die nuwe bedeling ook binne munisipale grense. Dit was die keuse van munisipaliteite of hulle grondeienaars wil belas. Die belasting het nie verband gehou met enige munisipale dienste nie en is gehef op grondwaarde alleen. Dorpenaars het dus ekstra heffings betaal vir hierdie dienste. Maar onder die nuwe wet moet belasting gehef word as ‘n enkel belasting op grondwaarde plus verbeterde waarde. Hierdie waarde moet markverwant wees en berus dus op ‘n gewillige koper en verkoper beginsel. Dit impliseer dat sekere grondeienaars, wie se grond intensief ontwikkel is, dramatiese verhoging in belasting sal ervaar. Die plek van wildboere binne die wet, is ook bespreek. Wat die proses binne die Lephalale gebied besonder maak, is die samewerking tussen grondeienaars en die munisipaliteit. ‘n Landelike Belastingbetalersforum (LBF) is aan die begin van 2006 gestig. Tot op datum is reeds 27 vergaderings gehou. Alle georganiseerde landbou-organisasies en grondeienaarsorganisasies was deel van die forum. Beginsels wat bespreek is, is die feit dat grondeienaars wat nie dienste ontvang nie, daarvolgens korting moet ontvang. Grondeienaars wat ‘n bydrae lewer tot die gemeenskap sal onder sekere voorwaardes ook korting ontvang. Die feit dat wildboere binne die besigheidsektor val, sou bepaal dat hulle ten volle belas sou word en dus nie vir dieselfde kortings kwalifiseer nie. Na onderhandelings is ooreengekom dat bloot die besigheidsverbeteringe, soos die lodge en wat daarmee saamgaan, ten volle belas word, Om ‘n beleidsdokument op te stel, is harde werk: Vlnr: Jan Viljoen, Gert Snyman, Francois van den Berg, Andre Bower, Neels Troskie en Tobie Potgieter. terwyl die res van die grond dieselfde behandel word as ander plaasgrond. Beginsels wat geld is belasting mag niemand finansiëel benadeel nie en moet bilik en bekostigbaar wees. Daar is ook ‘n beperking op die verhoging van belasting. Groei van die begroting word beheer deur die voorskrifte van die munister van Finansies. ‘n Punt wat ernstig bespreek is tussen die munisipale konsultant, adv Werner Zybrand, en die LBF, onder voorsitterskap van mnr Francois van den Berg, was die feit dat die waarde van landelike grond dramaties gaan styg omdat verbeteringe nou ook in berekening gebring word. Die LBF wou graag hê dat die totale inkomste vanuit die landbousektor nie meer as die normale verhoging moet betaal in totaal nie. Dit sou dan tot gevolg hê dat al sou sekere eienaars meer betaal, die totale inkomste uit die sektor nie meer as 6% sal styg nie. Alhoewel die waarde van eiendomme dus dramties styg, moet die tarief verlaag word om die verhoging in bedwang te hou. Die vergadering besluit om die punt weereens te laat bespreek tussen die LBF en Zybrand. ‘n Ope vergadering sal gehou word voor die beleidsdokument aanvaar word. Ander munisipaliteite in Limpopo wag vir die uitslag van hierdie ondrhandelings. Francois van den Berg het die vergadering gemaan om deel te bly van die proses. Deur betrokke te bly in die proses, kan insette gelewer word in die munisipale begroting. Sodra die waardasierol beskikbaar is, moet grondeienaars seker maak van die waardasies sodat enige probleme uitgesorteer kan word in die toepaslike periode. Hy het ook die LBF, grondeienaars en die munisipaliteit bedank vir hulle positiewe samewerking.