Health

Hoe belangrik is fosfate in produksiediere se dieet

Deur Dr. JJ Nel BVSc(Pret)

Suid Afrika is ‘n land baie arm aan natuurlike fosfate en van al die vitamien en mineraal tekorte wat mag voorkom is fosfaat- tekort die mees algemene voedingstekort in Suid- Afrika.
Ander faktore soos oormatige vlakke van yster, kalsium en aliminium kan veroorsaak dat die bietjie fosfaat wat wel voorkom, swak geabsorbeer word deur die liggaam.
Suid Afrika word verder gereeld getref deur lang periodes van droogtes wat lei to baie lae vlakke van fosfaat in die plante.
Baie boere is onder die indruk dat aanvullings slegs in die wintermaande gegee moet word en dikwels hoor jy
“Maar Dok, kyk net hoe pragtig groen staan die gras.”
Dit is waar en ons is dankbaar vir die goeie reën, maar baie reën kan ook lei tot uitloging van fosfaat uit die grond.
Dit is ‘n groot probleem in verse en koeie in veral vroeë laktasie, en is een van die hoof oorsake van swak groei, swak voeromset, verlaagde melkproduksie, swak vrugbaarheid, pika (vreet van abnormale voorwerpe soos ou bene – wat weer kan lei to Lamsiekte) en beenbreke in beeste, skape en varke.
Studies dui daarop dat fosfaattekort ook kan lei tot koeie wat bly lê na kalwing, nageboortes wat vassit en ‘n verhoogte vatbaarheid tot opblaas.
Gevalle is aangeteken waar vrugbaarheid geval het tot so laag as 20% as gevolg van fosfaattekorte.
Die groot probleem ontstaan dat teen die tyd dat die simptome van fosfaattekort sigbaar word, gewoonlik tydens ‘n droogte of in die wintermaande, neem dit geruime tyd en baie onkoste om die toestand om te keer.
Onder veldtoestande is dit moeilik om seker te maak jou diere kry die voorgestelde 40-50 gram fosfaat per dag in. Verder kan  die onoordeelkundige byvoeging van fosfate lei tot ‘n verlaagde inname aangesien dit dikwels onsmaaklik is en van die fosfate is selfs dodelik giftig indien diere te veel hiervan sou inneem.
Toevoeging van fosfate in water is effektief mits die fosfaat outomaties bygevoeg word by die water soos dit in die trog gepomp word. Byvoeging van fosfate in die tenks lei tot verdunning en uiters onakkurate konsentrasies, asook oormatige groei van alge in die tenks.
Superfosfaat kan op die weiding gespuit word, maar is onprakties in ekstensiewe boerderye en dikwels koste- en  arbeidsintensief.
Die heel beste en mees ekonomiese metode om te verseker jou vee kry voldoende hoeveelhede fosfaat in, is die gebruik van lekke, voorberei deur kundige mense wat die gehalte van die rou produkte kan kontroleer en kan verseker die smaaklikheid van die lekke word nie nadelig beinvloed nie. Hierdie lekke word dikwels “somerlekke” genoem en soos die naam aandui is dit nie net in die winter wat lekke uitgesit moet word nie, maar reg deur die jaar.
So volgende keer wanneer beeste nie gewig optel of produseer soos verwag nie, ondanks pragtige groen weiding, dink aan fosfaattekort en kry ‘n goeie somerlek vir u vee.