General

Egpaar wreed vermoor in plaasaanval

VAALWATER – ‘n Egpaar van die Vaalwater/Marken gebied is Woensdagnag wreed vermoor op hul plaas aangetref. Mev Botha is Dinsdagmiddag laas lewend deur haar seun gesien.
Nadat die Botha’s se seun sy ouers Woensdag onsuksesvol probeer kontak het, is hy na sy ouers se huis wat hy gesluit gevind het. Die krag was ook afgeskakel.  Hy het die buurman gekontak en hulle het ‘n venster gebreek om toegang tot die huis te kry.
Mev Botha is onder ‘n duvet dood aangetref. Volgens berigte wil dit voorkom asof haar kop met ‘n baksteen verbrysel is. As gevolg van die wreedheid van die aanval, kon daar egter nie met sekerheid gesê word waarmee sy aangerand is nie.
Mnr Botha was nêrens in die huis gevind nie en lede van die Distrik Landbou Unie, SAPD en spoorsnyers het ‘n soektog van stapel gestuur. Mnr Botha se liggaam is in die lande aangetref waar hy toegepak was met takke. Hy is vermoedelik met ‘n graaf of panga doodgeslaan. Sy hakskene was ook gekap gewees en die vermoede bestaan dat dit was om hom te immoboliseer.
Volgens TLU-SA Noordstreek, is die motief van die moorde nie misdaad of roof nie aangesien mnr Botha se vuurwapen voor sy bed en ‘n ander in sy bakkie onaangeraak was.
TLU-SA het alle wit kommersiële boere gemaan dat dit krities belangrik is om onmiddellik by ‘n landbou organisasie of ten minste by ‘n steunkring aan te sluit. TLU-SA Noordstreek het die betrokke gemeenskappe gevra om nie paniekerig te raak en reg in eie hande te neem nie, maar bygevoeg dat wit kommersiële boere hulself moet beveilig.