Christel van den Bergh maak moeilikheid
Die kraakvars aktrise Christel van den Bergh speel die rol van Jennifer in kookoo productions se nuwe produksie van die baie gewilde …IS DIE MUIS BAAS? Maar sy’s darem ook nie ‘n heeltemal groentjie as dit by ons land se gehore kom nie. Jy’t haar al definitief gesien speel in gewilde TV reekse soos ‘Plek van die Vleisvreters’, ‘Sewende Laan’, ‘Gabrie’l en ‘Egoli’.
Op die verhoog het Chistel ook al haar merk begin maak in produksies soos Pretoria Technikon se ‘Rosenkrantz and Guildenstern’ en ‘Die Van Aardes van Grootoor’. Christel is baie opgewonde om deel te wees van so ‘n wenner-produksie, maar bly ook tussendeur besig met stemwerk, industriële teater, advertensies, en kinderteater by Babbelboks-kinderteater.
kookoo Productions gaan voort met die tradisie om aan mense die geleentheid te gee om ‘n nuwe jaar af te skop met lekker lag.
… is die muis baas? is die opvolg op die gewilde As die kat weg is… en open op 6 Februarie 2006 by die West End Theatre in Pretoria. (Die West End Theatre is op die skougronde in Soutterstraat).
… is die muis baas? is losweg gebaseer op die Britse stuk – Fringe Benefits – wat geskryf is deur Peter Yeldham en Donald Churchill. Pierre van Pletzen het die vertaling waargeneem en is ook die regisseur van die stuk.
Die nimlike Pieterses is terug, maar dié keer is daar heelwat interessante verwikkelinge. En dit maak …is die muis baas? veel prettiger as sy voorganger.
Waar die vroue van die twee mans in die verlede hul mans uitgevang het, is die bordjies verhang. Hulle het ook ‘n plan of twee in die mou. Die vurige Marie (Isadora Verwey) en haar bleeksiel Neels (David Clatworthy) pas nou huis op in welgestelde Waterkloof. Met ‘n toegeruste kroeg, swembad en afstandbeheerde gordyne is dit ‘n ervaring opsigself. Daarby word daar kliphard beplan aan ‘n groot vakansie saam met haar suster, Louise (Rika Sennett), en dié se man, Sarel, op Margate.
Sarel (James Borthwick) is sy ou self. Sy oog is nog rats vir ‘n mooi vrou en sy mislukte eskapades met Jennifer (Christel van den Bergh) knaag aan hom. Miskien moet hy weer probeer. Die grootste verrassing is Neels wat op soek is na iets anders as ”sousbone”. En ‘n bleeksiel wat wil vry, is ‘n snaakse verskynsel, veral as Suzie (Annerika Nieman) die enigste meisie is wat naby is…
Tipies klug, is … is die muis baas? die ene gekonkel. Fiasko volg natuurlik op fiasko, want elkeen beplan om sy dinge in dieselfde huis aan te vang, veral as daar ook nog ‘n loodgieter (Hannes Brummer) onverwags opdaag.
Maar is die muis baas as die kat weg is…?
Soos met kookoo productions se ander weghol-treffers word ‘…IS DIE MUIS BAAS?’ ook deur Pierre van Pletzen geregisseur. Pierre is al laaste ses jaar voltyds akteur en regisseur by 7de Laan.
. . . IS DIE MUIS BAAS word tot 30 Maart 2006 by die West End Theatre – Pretoria (op skougronde) aangebied
Besprekings by Computicket – 011-3408000.
Groepbesprekings kan gedoen word Sonnel (011) 8801027 of Sonnel@kookoo.co.za.