Health

Waarom moet my hond ingeënt word?

Dr. J.J. Nel BVSc(Pret)

Kliënte vra gereeld die vraag aan veeartse en daar heers blykbaar redelik verwarring onder kliënte oor inentings. Eerstens weet die eienaar nie waarvoor die hond ingeënt word nie en dan verkeer baie onder die indruk dat ‘n eenmalige inenting op 6 weke voldoende beskerming sal bied.
Wat ons dikwels sien is hondjies wat geënt is op 6 weke en geen skraagdosis(booster) kry nie en dan so op 6 maande kry hulle Parvo-virus infeksie(katgriep).
Die entstof wat meestal gebruik word is die sogenaamde 5-in-1, hoewel ons in Thabazimbi die 7-in-1 gebruik aangesien Leptospirosis sporadies voorkom in die area en potensieël oorgedra kan word na die mens.
Wat bevat die entstof:
Distemper (Hondesiekte) – baie ernstige siekte wat hoofsaaklik die longe aantas in jong honde, maar wat die gevaar inhou dat die virus sluimer in die liggaam en ernstige breinskade en senuweeskade veroorsaak. Selfs 5jaar + nadat die hond blootgestel is aan die virus.
Hepatitis:  Virussiekte wat hoofsaaklik die lewer aantas.
Adeno virus: Virus wat longe aantas.
Parvo virus:  Veroorsaak die dikwels fatale toestand bekend as Katgriep.
Parainfluenza virus: Tas hoofsaaklik die longe aan.
Leptospirosis:  Bakteriese siekte wat die niere en verskeie ander organe aantas – kan oorgedra word na die mens en die dood veroorsaak.
Corona virus: Veroorsaak dermkanaalontsteking wat dikwels met Parvo gastro enteritis (katgriep) verwar kan word.
Dit is baie belangrik dat u hond ‘n skraagdosis ontvang 3-4 weke na die eerste enting en dan weer ‘n 2de skraagdosis 3-4 weke daarna. Met die 2de of derde skraagdosis sal u hond ook ingeënt word teen Hondsdolheid – ‘n dodelike siekte van mens en dier. Hierna word die hond jaarliks geent met ‘n 7-in1 en Hondsdolheid om te verseker die immuunstatis bly voldoende om u beste vriend te beskerm teen hierdie potensieël dodelike siektes.
Die hond word ook tydens die inentings behandel teen inwendige wurms wat potensieël ernstige siektes kan veroorsaak en sommige wurms kan na u kinders oorgedra word.
Verder word u hond ook ondersoek tydens die inenting en enige vrae wat u mag hê oor voeding, huisvesting, vlooi- en bosluisbeheer ensovoorts, sal met graagte beantwoord word.
Sommige eienaars redeneer dat die koste te hoog is vir ‘n inenting en “eerder die kans vat”, maar dit is soos om te kla dat die prys van motorolie te duur is en dan die engine vervang as dit uitbrand. Die behandeling van sommige van die siektes kan baie duur wees (10-20 keer die koste van ‘n inenting).
Inentings vir u hond is net so belangrik soos goeie kos en liefde en sal verseker dat ou Wagter nog vir jare die huis en huisgesin kan oppas en ‘n lojale vriend sal bly.