General

Fokus op bejaardesorg

THABAZIMBI – ‘n Werkgroep het onlangs vergader om die versorging van verswakte bejaardes en terminaalsiekpersone van die dorp te bespreek. By die vergadering het dit duidelik geblyk dat daar tans ‘n besondere leemte bestaan ten opsigte van tuisverpleging vir dié kwesbare groep.
Dit blyk dat die tipe versorging wat benodig word wissel van eenvoudige toesig periode diens, vervoer, verskaffing van gebalanseerde etes, medikasiebeheer tot volledige versorging. Hetsy tuis of moontlik in ‘n versorgingsoord.
Na ‘n kort bespreking oor waar lede van die kwesbare groep hul bevind en watter spesifieke dienste hul benodig, het die groep besluit om eers ‘n behoeftebepaling te doen voordat aksieplanne opgestel word. Bejaardes en hul versorgers word derhalwe uitgenooi om die SAVF maatskaplike werkkantore by (014) 777 1093 tussen 08:00 en 13:00 te skakel sodat ‘n omvattende register saamgestel kan word van sodanige persoon.
Lede van die gemeenskap wat graag betrokke wil raak by die lewer van dienste aan bejaardes word ook versoek om Maryna de Beer, SAVF maatskaplikewerker, by bogenoemde nommer te skakel.
Ten einde van die projek ‘n sukses te maak, is ‘n hoë mate van betrokkenheid deur almal in die gemeenskap noodsaaklik. Bejaardesorg raak elkeen van ons.