Saaigrond boere skakel om na veeboere
Wisselende graanpryse maak die omskakeling van laerpotensiaal-saaigrond na meerjarige weiding vir diereproduksie ál meer ‘n alternatief. Dié proses moet egter nie halsoorkop aangepak word nie.
Dit volgens ‘n artikel in die Landbou Weekblad waarin hulle boere maan om deeglike beplanning te doen waarin alle faktore in aanmerking geneem moet word. Omdat elke boerderyvertakking uitdagings het, is nie alle graanboere vanselfsprekend goeie veeboere nie.
Daarom moet hulle deeglik besin oor die vereistes vir finansiële sukses, sê dr Arno Moore, bekende weidingkundige. Graanboere wat met sukses met vee boer, het die voordeel van die verspreiding van risiko deur die toevoeging van vleis en oorskotvee tot graan as verkoopbare produkte.
Dit het ook ‘n gunstige uitwerking op kontantvloei deur die beter verspreiding van bemarking en verkope deur die boekjaar. Dit sal ‘n boer loon om klein te begin en in veeboerdery in te groei.
Een van die belangrikste vereistes by die vestiging van aangeplante weiding is ‘n voervloei-benadering. Die boer moet dus presies weet waar en hoe die nuwe weiding in sy voervloeiprogram gaan inpas.
As die nuwe weiding nie ‘n duidelike rol in die program het nie, sal dit waarskynlik nie betaal om dit te vestig nie. Dit is dikwels die rede waarom duur gevestigde weiding weer uitgeploeg word.
Vir kostedoeltreffende voervloeibeplanning is dit belangrik dat goedkoop, beskikbare ruvoerbronne ten beste benut word. Duurder bronne word strategies aangewend om óf die doeltreffendheid van produksie te verhoog óf produksie uit te brei.
Die beskikbare voerbronne op ‘n graanplaas is oesreste en natuurlike veld. Oesreste, waarvan gewoonlik meer as genoeg beskikbaar is, is ‘n goeie ruvoerbron vir oorwintering. Dit is gewoonlik ook die goedkoopste opsie vir oorwintering.
Natuurlike veld op uitvalgrond is ‘n belangrike bron van somervoer, maar op ‘n tipiese graanplaas is dit gewoonlik skaars en dikwels oorbewei.
As die veevertakking uitgebrei word, is dit gewoonlik die tekort aan somerweiding wat deur die aanplant van weiding voorkom word. Wanneer beplan word, is ‘n balans tussen winterweiding (oesreste) en somerweiding (veld en aangeplante weiding) nodig. Dit is belangrik om daarteen te waak dat nie in só ‘n mate omgeskakel word dat ‘n tekort aan oesreste vir oorwintering ontstaan nie.
Omdat graanverbouing die fokus op ‘n graanplaas is, word veldbestuur dikwels afgeskeep. Goeie veldbestuur kan egter veldproduksie meer as verdubbel – ‘n aspek waaraan voornemende veeboere beslis aandag moet gee. Veld is “goedkoop” met ‘n lae risiko vergeleke met aangeplante weiding.
Weiding kan geslaag op marginale saaigrond gevestig word. Graanboere moet hul kennis van die grond, vrugbaarheid en bemesting gebruik om weiding kostedoeltreffend te vestig en te bemes. Die omgewing waar hulle boer, is belangrik. Dit is goed om wetenskaplike kennis te kry. Konserwatiewe bemesting is die wagwoord by aangeplante weiding.
‘n Peulgewas, soos lusern, is ‘n uitstekende gewas vir wolskape, maar weens die gevaar van opblaas, is beesboere grootliks op grasse aangewese. Die keuse van ‘n gewas is maklik – bly by beproefde grassoorte. Meerjarige gewasse wat in die Vrystaat, Noordwes en Limpopo sal aard, is Smutsvingergras (leem- en kleigrond), bloubuffelsgras (leem- en kleigrond) en borseltjiegras (sandgrond).
Op die oostelike Hoëveld val die keuse op Smutsvingergras (leem- en kleigrond), oulandsgrassoorte (sandgrond) en swenkgras (nat grond). In alle gevalle is babala en voersorghum goeie eenjarige gewasse.
Weidingsbestuur moet eenvoudig gehou word. Waak teen oorkapitalisering met duur heinings vir ingewikkelde wisselboustelsels. Periodieke rustydperke volgens seisoene vir staande hooi het groot voordele vir die instandhouding van groeikrag. Vir goeie veebestuur moet die kampe wat benodig word, tot die minimum beperk word.
By die benutting van die weiding is dit uiters belangrik om die voervloeibenadering in ag te neem. Die beste ekonomiese resultate word behaal waar die diereprestasie wat behaal word, regstreeks bemarkbaar is – dus met die uitgroei of afronding van beeste vir bemarking.
Hoewel dit ‘n minder winsgewende opsie is, kan weiding ook deur lakterende koeie en kalwers benut word. Nie-produktiewe diere hoort op goedkoper weiding, soos veld of oesreste.
Sekere faktore, soos die produksiegebiede, bestuur en aanwending, het ‘n groot invloed op die winsgewende vleisproduksie vanaf aangeplante weidings.
Tabel 1 illustreer die beginsels van die winsgewende verbouing van aangeplante weiding.
Daaruit is dit duidelik dat aangeplante weiding finansieel tot sy reg kom as dit vir die afronding van diere vir die mark gebruik word. Die beskikbaarheid van diere moet egter in gedagte gehou word.