Vrese dat SA in binnekort geen witmielies sal hê
Die Beeld het die afgelope week berig dat terwyl eenstemmigheid ontbreek oor die werklike grootte van vanjaar se mielie-oes, meer landbourolspelers dit eens is dat Suid-Afrika teen die tweede helfte van vanjaar geen witmielies in voorraad sal hê nie.
Witmielies vir lewering in Maart het Vrydag op R1 060 per ton op die Safex- termynmark van die JSE gesluit. Dit is R27 laer as Donderdag. Dit is die laag ste vlak sedert die laaste week van verlede maand, toe die gewas teen R1 220 per ton verhandel het, die hoogste prysvlak in 22 maande.
Die prys het sedertdien tussen dié vlak en Vrydag se sluitingsprys klimtol gery – ‘n verhandelingswydte van ongeveer 15%. Voorspellings vir die huidige seisoen se oes wissel tans tussen ‘n 58%- en 45%- afname teenoor die vorige seisoen se 2,93 miljoen ha aanplantings.
Graan SA het verlede week sy lede per SMS ingelig dat sy opname ‘n 57%-afname vir witmielies en 58%-afname vir geelmielies toon. Volgens ‘n Reuters-peiling onder handelaars en banke verlede week sal die afname 45% wees.
Die Oesskattingskomitee het in November ‘n 53%-afname voorspel en reik later vandeesweek sy eerste skatting op grond van werklike aanplantings uit.
Die Misstofvereniging van Suid-Afrika (MVSA) het einde verlede week verkoopsyfers vir Desember uitgereik. Dit kom voor asof boere in dié maand kunsmis in ‘n vinniger tempo as in die vorige vyf maande gekoop het: Die afname op ‘n jaargrondslag vir Julie tot November is 41% in somersaaigebiede, maar vir Julie tot Desember is die afname slegs 37%.
Inaggenome dat ongeveer 10% van die aanplantings in somersaaigebiede van mielies na ander gewasse beweeg het, is die geskatte mielie-aanplantings op grond van kunsmisverkope ook in die 58%-tot-45%-afnamekerf.
Nieteenstaande sal enige hoeveelheid aanplantings tussen die genoemde skattings steeds op ‘n tekort aan witmielies uitloop. Projeksies dui op ‘n beskikbare mielie-voorraad van 8,1 miljoen ton in die volgende bemarkingsjaar, terwyl Suid-Afrika in die huidige jaar na raming 8,4 miljoen ton self sal gebruik en reeds 1,5 miljoen ton uitgevoer het.
‘n Kwotasie wat Vrydag van ‘n kommersiële handelaar vir die invoer van witmielies vanuit die VSA aangevra is, is gelykstaande aan R1 400 per ton gelewer by Randfontein.
Daarby kan ‘n kwaliteitspremie van R150 op Suid-Afrikaanse mielies gehef word omdat dit as van ‘n beter gehalte beskou word. Met dié kwotasie as grondslag is Vrydag se sluitingsprys bykans R500 onderwaardeer.