Boere moet waak teen gesondheidsrisiko’s
Boere in Suid-Afrika moet waaksaam wees en let op die simptome van voëlgriep, miltsiekte en bek-en-klouseer nadat berigte ontvang is van die uitbreek van dié gevreesde siektes in Zimbabwe.
Volgens berigte wat deur TLU-SA ontvang is, is hoenders en volstruise in Zimbabwe deur die voëlgriep virus (H5N2) aangetas. Alhoewel hierdie virus groot skade aan die hoender- en volstruisboerdery in Zimbabwe kan aanrig, moet dit egter nie verwar word met die lewensgevaarlike H5N1 virus nie.
Die ineenstorting van dienste in Zimbabwe laat Suid-Afrikaanse kommersiële en opkomende landbouers baie kwesbaar. Verder breek miltsiekte (anthrax) en bek-en-klouseer steeds sporadies in Zimbabwe uit en ontstaan daar kommer dat die siektes na Suid-Afrika kan oorspoel.
Boere is gemaan om te let op die simptome van die siektes aangesien vleis smokkelaars ‘n rol kan speel in die verspreiding van die siektes. Volgens TLU-SA wil dit voorkom asof die verskepte optrede op die Beitbrug grenspos gedurende die kerstyd, wel smokkelaars effens aan bande gelê het.
Die verbod op die invoer van pluimvee vanuit Zimbabwe, kan die probleem help voorkom mits die verbod toegepas en omkopery nie plaasvind nie. Boere moet egter waaksaam bly en enige probleme met die nodige departemente opneem.