General

Mark Shuttleworth by Wetenskap Expo 2005

Thabazimbi – Twee leerders van Laerskool Thabazimbi, Corrie Minnaar (Gr6) met haar Diptoestel en Rean Kemp met sy Tsunami-projek, het die voorreg gehad om aan die Nasionale finale van die Wetenskap Expo te kon deelneem. Die Expo is op 30 September en 1 Oktober by die Universiteit van Pretoria aangebied.
Laer- en hoërskoolleerders van elke provinsie in Suid-Afrika asook vanaf Amerika, Rusland, Nigerië, Swaziland, Lesotho, Namibië en Zambië het deelgeneem en ‘n totaal van 477 projekte is ingeskryf. Die wenners neem volgende jaar deel aan die Internasionale Expo.
Eskom is die hoofborg van die Expo en wonderlike pryse en geld was op die spel. ‘n Beurs om aan die Universiteit van Pretoria te studeer was ook onder die pryse.
Die projekte en modelle was van ‘n hoë standaard. Elke leerder het met gesag en foutloos oor hul onderwerp gepraat. Dit was verstommend hoeveel navorsing en moeite elke deelnemer gedoen het om sy inskrywing die beste te laat voorkom.
Saterdag se hoogtepunt was beslis toe Mark Shuttleworth, Suid-Afrika se eerste ruimtevaarder, die leerders kom toespreek en sy passie en liefde vir die wetenskap en tegnologie met die leerders gedeel het.
Sy woorde was “Ons mag droom, en ons mag groot droom… The Sky is the Limit”.
Mark Shuttleworth het die Shuttleworth Foundation gestig wat dit ten doel het om sagteware te skep om skole in ontwikkelende lande te help.
In Suid Afrika het sy ruimtereis geweldig baie gedoen om die nasietrots te versterk en plaaslike belangstelling in die wetenskap aan te wakker. Sy ontmoeting met die ruimte het alle Suid-Afrikaners, oud en jonk, herinner aan die ongelooflike mag van die wetenskap ingenieurswese en die tegnologie.
In 2002 het Mark Shuttleworth ‘n eredoktersgraad van die Universiteit van Kaapstad ontvang vir sy “vindingryke entrepreneurskap” en sy lofwaardige bydrae tot die bevordering van die Wetenskap en tegnologie by die jeug.