Rooiberg vier eeufees
ROOIBERG-Rooiberg is volgende jaar 100 jaar oud en die Huiseienaarsvereniging in samewerking met Itereleng Nedersetting 6, het besluit om hierdie groot gebeurtenis te vier met ‘n fees van alle feeste soos net die Bosvelders dit kan doen.
Die eeufees vind plaas oor die naweek van 17 tot 21 Maart 2006. Drie dae van sport toernooie word beplan en sluit in gholf, jukskei, netbal, veerpyltjies, rolbal, sokker ensovoorts. Ander daaglikse items sal insluit: fietswedrenne, quads, 4×4’s, boogjag, skyfskiet en so meer. Donkieritte, etniese danse en koorsang asook boeresport vorm deel van die vermaak.
Talle kosstalletjies en ‘n biertuin sal sorg vir die hongeriges en drostiges. Professionele kunstenaars sal deurlopend optree.
Die eeufeeskomitee is al sewe maande besig met reëlings om die gebeurtenis ‘n onvergeetlike geleentheid te maak. Alle plaaslike en professionele kunstenaars word genooi om deel te neem en uit te stal. Bespreek jou stalletjie vroegtydig.
Alle oud-inwoners en veral myners word genooi om kontak te maak. Daar word gesoek na stories, staaltjies, grappies en gebeurtenisse uit die ou dae. Foto’s word dringend gesoek en sal permanent op uitstalling bly in Rooiberg.
Vir verdere inligting in verband met Rooiberg en om jou kuns- of kosstalletjie te bespreek, kontak Gerda by (014)7341953 of 0828200873. Hou pers dop vir verdere inligting.