Thaba Tuks swemgroep begin op hoë noot.
THABAZIMBI – Die tien swemmers van Thabazimbi wat onder leiding van Heleen Stevens vir Tuks swem, was die hele September vakansie op ‘n intensiewe oefenweek by hul klub op Pietersburg.
Hulle het Vrydag 23 September vertrek. Vanaf 24 September tot 1 Oktober het die swemmers drie oefensessies per dag ingewerk.
David Bester, afrigter van Polokwane Tuks klub, het hul “gedrill” met ‘9000m oggendsessies en 7000m middagsessies. Die swemafrigting het onderdak plaasgevind by die Virgin Active gym en in die middae is hul deur ‘n gym instrukteur op droë land afgerig.
Saans was almal doodmoeg en styf maar daar was meer as genoeg tyd vir plesier in die ‘Savanna Mall’. Dit was egter nie net fliek en uiteet nie, maar die ideale tyd om mekaar beter te leer ken en te werk aan spangees. Die kinders is meer gemotiveerd, positief en gereed om die res van die seisoen hard te werk.
Die hoofdoel van die oefenkamp was om ‘n goeie basis op te bou sodat hul die harde oefenprogram wat deur Tuks opgestel word kan doen en verstaan. Altesaam het die kinders 79 500m vir die week geswem. Die Thabazimbi groep vorm deel van die Polokwane Tuks groep en die groep bestaan uit 170 swemmers.
Die kamp is Saterdag 1 Oktober afgesluit met die Tzaneen Sprint Gala. Al tien Thabazimbi swemmers het deelgeneem en hul tye met 4.7sekondes verbeter. Twee swemmers het gekwalifiseer vir ‘n “level 3”. Wickus Stevens verbeter sy 200IM tyd met 21sekondes. Jacques Stevens, Wickus Stevens, Anri Prinsloo en Christo Pienaar was van die swimmers wat met medaljes uit die stryd getree het.
Hou dié swemmers gerus dop. Hul volgende doelwit is die Mpumalanga kampioenskappe einde November.