Volksbiblioteek binnekort op die been
Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) het besluit om ‘n eie Afrikaanse volksbiblioteek op die been te bring deur middel waarvan boeke aan Afrikaanssprekende lesers regoor die land beskikbaar gestel kan word deur middel van plaaslike verspreidingspunte wat geskep gaan word.
Daar word tans met die beheerders van moontlike verspreidingspunte onderhandel ten einde ‘n behoorlike verspreidingstelsel daar te stel. Vernietiging van Afrikaanse boeke deur biblioteke, ander instellings en private persone neem teen ‘n onrusbarende tempo toe.
Die GHA doen ‘n ernstige beroep op persone en instellings wat van Afrikaanse boeke ontslae wil raak, om die GHA se kantoor te skakel of reëlings te tref om die boeke by hul kantoor of ander bergplekke te laat bewaar ten einde die boeke deur middel van beoogde biblioteekstelsels aan lesers beskikbaar te stel. Sodoende word ‘n kultuurskat bewaar.
Die GHA kan gekontak word by (012) 327 5577.