Sport

Gholfnuus

Verlede Saterdag het daar 80 spelers vanaf al die Bosveldliga-clubs op Thabazimbi Gholfbaan gespeel. Die spel was ‘n Beterbal Stableford met ‘n keuse bofhou. Daar is om 9:00 gelyktydig van al die bowwe afgeslaan.
R de Lange en J du Plessis van Mogol met 49 punte was die wenners. Daarna moes daar uitgetel word, want vier pare het op 48 punte geëindig: Jacob Jordaan en Ettienne le Roux, B Holtshauzen en W Smit van Warmbad, Denis Dreyer, Toppie Olivier, D Buys en Z Oosthuizen ook van Mogol.
Mogol is tans voor in die liga met Thabazimbi tweede. Die volgende liga is op 22 Oktober te Brits.
Hierdie naweek is dit die Bielie van die Bosveld. Vrydag 23 September word daar vanaf 11:00 afgeslaan. Die formaat is weer ‘n Beterbal met ‘n keuse bofhou. Saterdag en Sondag is dit twee dae slagspel om die Bielie te bepaal. Spelers kan vir al drie dae inskryf of vir enige een of twee dae van hul keuse. Dit is ‘n prestige toernooi en die Klub hoop al die Thabazimbi spelers gaan deelneem. Die Bielie word op die bruto slagspel houe bepaal, maar al die ander pryse is die netto tellings. Almal het dus ‘n kans om ‘n prys te wen. Thabazimbi Gholf Klub hoop om die toernooi in die toekoms uit te bou tot een van die hoogtepunte op die gholfkalender.
Lede moet asseblief maar gebruik maak van die Klub se gholfkarretjies. Die manne wat gholf moes los as gevolg van mediese probleme kan gerus nou weer kom speel. Die karretjies maak die spel nou weer toeganklik vir almal.
Thabazimbi Gholf Klub wil namens die komitee en al die lede simpatie oordra aan Jacob Jordaan en die hele familie met die afsterwe van sy ouma.