Thabazimbi spelers vir Blou Bul Amateurspan
Paola Robberts
THABAZIMBI – Die rugbyklub het vir die eerste keer in die geskiedenis daarin geslaag om vier Blou Bul Provinsiale Amateurspelers op te lewer. Evert van Zyl is verkies as slot, Kobus Baard as haker, Cobus Oosthuizen as agtste man en Darryl Walker as buite senter.
Mnr NH Fick, adjunk president van die Blou Bul Rugby Unie, het in sy skrywe aan die spelers gesê dat hulle die boonste sport van rugby in die Limpopo Provinsie bereik het. Hierdie vier spelers en die Thabazimbi Rugbyklub komitee het vanjaar besonder hard gewerk en bewys dat Thabazimbi van die hoogste gehalte spelers in sy midde het.
Geen speler is wat hy moet wees sonder ‘n goeie afrigter nie en Jan Engelbrecht, Thabazimbi rugby afrigter, het die laaste seisoen groot sukses behaal met beide sy rugbyspanne. Die eerstespan was onoorwonne en die tweedespan het tweede geëindig. Die Blou Bul Amateurspan is more te sien in die wedstryd teen die Goue Leeus te Raiders Rugbyvelde, Johannesburg.
Die Jaareindvergadering en verkiesing vind op 10 Oktober tussen 18:00 en 19:00 plaas en alle nominasies moet die kantore van Pump & Lifting voor of op 23 September 2005 bereik of ingehandig word by mnr Koos Steenekamp by 1skag, Amandelbult Myn.