General

Steenbokpan VLU nuus

STEENBOKPAN – Die Steenbokpan VLU se tweede 4×4 Gesinsdag vind Saterdag 24 September  plaas. Al die lede is woelig met reëlings en voorbereiding.
Die dag gaan vol aktiwiteite wees en begin om 07:00 op die plaas Tweeriviere teen die Limpoporivier op Steenbokpan. Uitstallers kan uitstal geleenthede bespreek teen R200 ‘n staanplek. Vir kinders is daar ‘n gratis springkasteel, ‘n inkleurkompetisie en vir die hongeres heerlike eetgoed en ‘n biertuin. Die hoogtepunt van die dag is die prysuitdeling en hope pryse vir alle verskillende kategorieë is te wen.
Met Augustus se veeveiling op Steenbokpan, het taklede weer reggestaan om honger beesboere en veilinggangers te voed en ook die Bloedbank van Ellisras was teenwoordig. Dit was baie gerieflik vir skenkers om sommer in die omgewing bloed te skenk en die Bloedbank was dankbaar vir die groot ondersteuning wat hulle die dag ontvang het. Die volgende veiling is op Dinsdag 27 September te Steenbokpan.
Drie van die tak se lede het ook op 3 September Beauty-tak se Lente Tantiéme bygewoon. ‘n Dag van uitnemendheid is op Tom Burke aangebied, en Elize, Riana en Tannie Mollie het gaan kyk, luister en leer.
Volgende in die dagboek, beplan Steenbokpan VLU lede vir die Oumas en Oupas van SAVF Ellisras, ‘n heerlike uitstappie en piekniek op Saterdag 1 Oktober.
Met die takvergadering wat op 14 September gehou is, was Steenbokpan se eie plaaslike kunstenaar, Surita Steenkanp, die gasspreker en het sy die lede meer van kuns en kreatiwiteit in hulself vertel.
Sy het ook klei saamgebring en elkeen kon haar eie bakkie maak. Dit was ‘n stres verligtende proses en aangesien die tak hul vergadering in Steenbokpan se kroeg gehou het, het ‘n gesellige atmosfeer geheers. Dit ten spyte van al die harde werk wat gedoen en uitgedeel is.
Daar was ook ‘n juwelier uitstalling en dit het pragtig vertoon bo-op die kroegblad. Die gasvrouens, Retha, Jana en Henriëtte het gelukkig gesorg vir heerlike eet- en drinkgoed en dit was dus nie vir die vrouens nodig om die kroeg se proviant in te vaar nie!
Op 12 Oktober om 09:30 hou Steenbokpan weer vergadering by Steenbokpan Boeresaal en almal is baie welkom. Kontak gerus vir Elize Jordaan (voorsitster) by (014) 779 0960 of Ilana Venter (sekretaresse) by (014) 779 0608 of Riana Peacock (skakelbeampte) by (014) 766 0229.