Tifoïedkoors epidemie nog nie onder beheer
DELMAS – Die gevalle van tifoïedkoors wat in Delmas aangemeld word, bly groei nadat nog 300 gevalle van maagkoors en 1500 vir diarree aangemeld en behandel is. Een persoon is reeds intussen aan ingewandskoors dood.
Die minister van gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang het berigte ontken dat die algemene hospitaal op Delmas oorval word deur pasiënte wat simptome van maagkoors en diarree toon, maar na wat berig word is baie pasiënte na hospitale in Witbank en Gauteng verwys.
Rand Water het die afgelope Dinsdag berig dat tifoïedkoors en ander siektes nie van die kraanwater afkomstig is wat deur hulle voorsien word nie. Die verklaring kom na toenemende kommer in Springs na gerugte dat die siekte reeds sóver versprei het.
“Julle kraanwater is veilig” het mnr Karl Lubout, Rand Water bestuurder van water kwaliteitsbemarking, gesê. Volgens Lubout verseker hul streng suiweringsproses dat hul drinkbare water absoluut veilig is. “Inteendeel, kraanwater in Gauteng is van die skoonste en gesondste in die wêreld”.
Rand Water, die grootste waterverskaffer in Afrika, voorsien grootmaat drinkbare water aan ‘n kwart van Suid-Afrikaners via metropool munisipaliteite soos Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni.
Lubout sê die water wat aan Ekurhuleni voorsien is, was gechloreer, wat verseker het dat dit veilig is. Die kwaliteit van die water word gereeld deur die munisipaliteit en Rand Water gemonitor. Rand Water het ook bevestig dat alle water kwaliteit toetse voldoen het aan drinkwater spesifikasies.
Mr Mduduzi Nxasana, van Rand Water, sê die Delmas area kry sommige van sy water van die Ekurhuleni metro raad en ander by ‘n meer in die dorp. Water verskaffing van die meer is nou gestaak. Rand Water het ook intussen groot hoeveelhede drinkwater na Delmas vervoer.
Die minister van Gesondheid, Manto Tshabalala-Msimang en minister van Watersake, Buyelwa Sonjica, het die afgelope Maandag Delmas besoek.