Entertainment

Shoprite boerewors kampioen aangewys

Die Shoprite/Checkers Boerewors Kampioen is die afgelope naweek by Sun City se Valley of Waves aangewys. Die nege provinsiale wenners het die geleentheid gekry om die beoordelaars vir ‘n laaste keer te beïndruk met hul wors-vernuf.
Die compère vir die dag was Frank Opperman, beter bekend as Ouboet in die program Orkney Snork Nie, en Brümilda van Rensburg, wat huidig die rol van Louwna in Egoli vertolk.
Hilda en Matrone het natuurlik eers weer aanmekaar gespring – tot groot vermaak van die toeskouers. Elkeen wou die skuld op die ander se skouers plaas vir die diskwalifisering van verlede jaar se kampioenskap. Die nege provinsiale wenners het weggespring met hul groot taak, om die beste boerewors voortesit, terwyl die 7de Laan sterre ‘n vertoning gelewer het.
Die paneel beoordelaars het bestaan uit Carmen Niehaus, kos redakteur van You en Huisgenoot, Kevin Gibbs en Jeff Schreunemann, lede van die SA Chefs Association, Peter Veldsman van Emily’s Restaurant en radio en TV kok, Francois Ferreira.
Die beoordelaars se moeilike taak het tot ‘n einde gekom en die wenner vir die Shoprite/Checkers Boerewors Kampioen 2005 was André Kemp van Upington in die Noord-Kaap. In die tweedeplek eindig Alpheus Rameetse van Lebowakgomo in Limpopo en derde Leon Coleske van Uitenhage in die Oos-Kaap.
André het buiten die splinternuwe Toyota Hilux 4.0 V6 dubbel kajuit 4×4 Raider, terwaarde van R305 000, ook ‘n Weber Summit Stainless Steel gasbraaier, ter waarde van R26 000, ‘n vakansie van R10 000 van All Gold en R26 000 kontant van Coca-Cola gewen.
Die naaswenner, Alpheus van Limpopo, wen ‘n Weber Genesis Gold B Stainless Steel gasbraaier ter waarde van R12 000, Shoprite/Checkers koop bewyse ter waarde van R3 000 deur All Gold en R12 000 kontant van Coca-Cola.
Leon Coleske wat derde geëindig het, het weggestap met ‘n Weber Genesis Silver Series C gasbraaier ter waarde van R9 000, Shoprite/Checkers koop bewyse ter waarde van R2 000 deur All Gold en R9 000 kontant geskenk deur Coca-Cola.