Wenke vir brandstroke
Bron: Landbou Weekblad
Die wet bepaal nie hoe wyd ‘n brandstrook moet wees nie, slegs dat dit voldoende moet wees om die verspreiding van brande te keer. Brandstroke moet vry wees van brandbare materiaal en van só ‘n aard wees dat dit nie gronderosie veroorsaak nie.
Plante mag vernietig word om die brandbaan te maak, maar daar moet sorg gedra word om nie onnodig bome en plante te verniel nie. Indien die brandpad byvoorbeeld deur ‘n bos inheemse bome of bedreigde plantsoorte loop, kan die pad verskuif word vir bewaringsdoeleindes. Dit kan ook weg van die grens gemaak word, soos om ‘n koppie.
Brandstroke kan gemaak word deur te skoffel, skraap, ploeg, skotteleg, met chemiese middels of deur te brand. Eersgenoemde vyf het die kleinste risiko en kan enige tyd gemaak word. Wanneer paaie gebrand word, word egter streng vereistes gestel en die moontlikheid van ‘n wegholbrand moet in ag geneem word.
Wanneer brandstroke deur brand gemaak word, moet genoeg toerusting en opgeleide personeel teenwoordig wees onder behoorlike toesig van ‘n verantwoordelike persoon. Die minimum vereistes per span is ‘n vuurvegter op ‘n voertuig met kommunikasiehulpmiddels, ‘n rugsakspuit, twee vuurslaners met flappe of sakke en nog twee helpers.
Daar moet altyd vuurvegters op bystand wees vir ‘n noodgeval. Voorbrande moet nie gemaak word in gras wat baie hoog en droog is nie. Sny eers al die gras, of dié aan weerskante, kort voordat gebrand word en moet nie brand as die wind waai nie.
Voordat brandstroke gemaak of weiding as deel van ‘n weidingbestuursprogram gebrand mag word, moet alle bure skriftelike kennis van die voorneme kry en met hulle ooreengekom word op ‘n aanvaarbare datum. As brande nie in een dag afgehandel kan word nie, moet die bure kennis van alle betrokke datums dra.
Gee ook kennis aan die brandvereniging of rampbestuur dat gebrand gaan word. Die veld mag vir ‘n bepaalde tyd ná die brand nie bewei ord nie. Elke grondeienaar en sy personeel moet alle redelike stappe doen om aangrensende grondeienaars in kennis te stel van ‘n brand en moet alles in sy vermoë doen om te keer dat die brand na aangrensende plase versprei.
Lede van ‘n brandbeskermingsvereniging is verseker van hulp sonder koste, terwyl nie-lede die koste moet dra van brande wat op hul eiendom beveg word.
Nog ‘n voordeel is indien ‘n eis ontstaan teen ‘n grondeienaar wat lid van ‘n brandbeskermingsvereniging is, word aanvaar dat hy nie nalatig was nie en moet die eiser nalatigheid bewys. As hy nie ‘n lid is nie, word aanvaar dat hy nalatig was totdat die teendeel bewys word.
‘n Brandbeskermingsvereniging het die mag om sy eie reëls te maak wat op sy lede van toepassing is ten opsigte van byvoorbeeld die wydte van brandpaaie, datums waarop brandpaaie voltooi moet wees, ledegeld en plasing van brandtoerusting.
So ‘n vereniging is verplig om ‘n veldbrandbestuursprogram te ontwikkel, lede op te lei, te organiseer en te steun, ekologiese toestande te identifiseer en beperkings te stel op die maak van brandstroke deur dit te verbied as toestande ongunstig is.
Mense wat nie die bepalings van die wet nakom nie, kan van ‘n kategorie 1-misdryf aangekla word as hy/sy ‘n vuur maak wanneer ‘n brandverbod geld en vir ‘n kategorie 2-misdryf as hy/sy ‘n vuur alleen laat voordat dit geblus is; ‘n brandende vuurhoutjie of ander brandmateriaal neergooi of laat val en daardeur ‘n brand veroorsaak wat skade veroorsaak; ‘n vuur maak, gebruik of aan die gang hou met of sonder die toestemming van die grondeienaar, wat versprei en beserings of skade veroorsaak; ‘n vuur in ‘n padreserwe maak anders as by ‘n aangewese vuurmaakplek, of anders as vir die doel van ‘n brandstrook; versuim om brandstroke te maak; versuim om die nodige kennis te gee; brandstroke maak wanneer die toestande nie geskik is nie; versuim om te voldoen aan standaarde van gereedskap; versuim om redelike stappe te doen en nie wil help om ‘n brand te blus of dit te beperk nie.