Varkpes moontlik onder beheer
Die uitbraak van varkpes wat in Julie in die Kaap uitgebreek het, is moontlik onder beheer. Tans is daar slegs klein areas van die Wes- en Oos-Kaap geaffekteer deur die siekte.
Intensiewe waarnemingsmaatreëls is regoor die land in plek om enige moontlike uitbraak op te spoor. Die wagtyd om te verseker geen varke met Europese varkpes word misgekyk nie, verstryk op 30 September. Volgens kenners is dit die eerste keer in amper ‘n honderd jaar wat Europese varkpes in Suid-Afrika voorgekom het.
Europese varkpes het verlede maand in die Hexriviervallei en Worcester uitgebreek. Tot dusver is al sowat R1,3 miljoen aan 97 eienaars betaal omdat 1 600 van hul varke van kant gemaak moes word.
Hierdie siekte kom by plaas- en wildevarke voor. In sy vroeë stadium sal hoë koors, verlies aan eetlus, depressie, samedromming, vel verkleuring, diaree en braking, verlies aan koördinasie en later verlamming voorkom.
Europese varkpes kan nie behandel word nie en die virus kan vir lang periodes oorleef in varkkarkasse sowel as bevrore varkvleis. Sover bekend hou varkpes nie ‘n bedreiging vir die mens in nie, maar moet besmette vleis eerder vermy word.
Dr Gideon Brückner, direkteur van die Wes-Kaapse veeartsenydiens, vra dat veeboere nougesette bio-veiligheid op hul plase toepas en nie afvalkos van onbekende of verdagte oorsprong aan varke te voer nie. Hy sê die beweging van mense en diere na en van persele waar diere gehuisves word, moet ook strenger beheer word om ongewenste veesiektes te voorkom.
Die publiek moet daarop let dat staatsveeartse permitte moet uitreik vir die vervoer van enige varke of hul karkasse oor die provinsiale grense.