General

Toer na Turkye ‘n belewenis

Vyf Thabazimbiërs het op 19 Junie het saam met ‘n toergroep op die voetspore van Paulus en Johannes gaan loop in die hedendaagse Turkye. Hulle is Ds Malan van Rhyn, sy dogter Hester, Theron Theunissen en sy vrou Sophie en Margie Steenekamp. Turkye word Klein-Asië genoem in die Nuwe Testament en is ‘n Bybelland waar ‘n groot deel van die Ou- en Nuwe-Testamentiese geskiedenis afgespeel het.
Die toer het verskeie hoogtepunte opgelewer waaroor boekdele geskryf kan word. Een van die hoogtepunte was die besoek aan Kappadosië met sy feetjietorings en maandlandskap wat uniek in die wêreld is. Hier kan gate en grotte en ondergrondse stede gesien word waar Christene weggekruip het in die tyd toe hulle wreed deur die Romeine vervolg is.
‘n Verder hoogtepunt was die besoek aan die sewe gemeentes van Openbaring 2 en 3 wat Efese insluit. ‘n Besoek aan Efese is ‘n moet! Die stad lê aan die weskus aan die Kaistrosrivier, vyf kilometer vanaf die see. Efese was een van die grootste stede van die antieke tyd en geleë op die hoofroete van die Ooste na Rome. Hier het Paulus sy langste bediening, naamlik een van meer as twee jaar, gehad en volgens 1 Timoteus het Timoteus ook later hier gewerk (1 Tm 1:3).
Die tempel van Artemis of Diana was hier geleë en is beskou as een van die wonders van die ou wêreld. Die Artemis-verering het meegebring dat die silwersmede van Efese ‘n goeie bedryf gehad het en daarom is dit verstaanbaar dat hulle so kwaad was vir Paulus oor sy prediking teen gode wat met die hand gemaak is (Hd 19:26).
Die teater waar die bevolking teen Paulus in beroering gebring is, het baie goed behoue gebly en die grootte daarvan-dit kon omtrent vier en twintig duisend mense huisves. Dit gee ons ‘n indruk van die omvang van die stad en die gebeure waarby Paulus betrokke was. Ander opgrawings wat by Efese gedoen is, gee ons ‘n goeie aanduiding van die lewenswyse van die mense van daardie stad in die tyd van die Nuwe Testament.
Die Celsus biblioteek is een van die baie indrukwekkende geboue wat nog behoue gebly het en wat besoek kan word. Om die apostel Johannes se graf net buite Efese te besoek is ook ‘n onbeskryflike belewenis.
Ds Van Rhyn beplan om weer ‘n groep na Turkye te neem vanaf 22 Januarie 2006. Die volgende plekke sal besoek word: Antiochië waar Paulus se sendingreise begin het en gelowiges die eerste keer Christene genoem is; Tarsus waar Paulus gebore is; die sewe gemeentes van Openbaring, onder andere Efese, Pergamum, Sardis, Filadelfia en Laodisea; Kappadosië; die gebied waar die Galasiërs gewoon het; Ikonium en van die ander plekke waar Paulus met sy sendingreise aangedoen het; ook Troje; die ou stad Konstantinopel (Istanbul) met sy 12 miljoen inwoners, en nog vele meer. Behalwe dat dit ‘n baie insiggewende geestelike ervaring is, is dit ook ‘n wonderlike vakansie.
Die koste beloop R 13 980 (@ R8.00/Euro), wat alle vervoer en toegangsfooie insluit, ook verblyf in vier- en vyfster hotelle met twee etes per dag.
Kontak vir ds Malan van Rhyn as u wil saamgaan of meer inligting wil hê: 014 772 2378 OF 082 858 0538 OF mvanrhyn@absamail.co.za.