General

Gholf-landgoed plaas las op waterbronne

BELA-BELA – ‘n Woordvoerder van TLU-SA Noordstreek meen dat die Gholf-landgoed wat in die opvanggebied van die dorp- en besproeiingsdam van Bela-Bela (Warmbad) in Limpopo ontwikkel word, ‘n las op ondergrondse waterbronne plaas.
Die distrik landbou-unie, Waterberg probeer al ‘n geruime tyd om ‘n impakstudie van die ontwikkelaars te kry, maar het tot dusver geen reaksie gekry nie, sê me Marie Helm, bestuurder van die TLU-SA Noordstreek. Wetgewing vereis só ‘n studie voor met enige ontwikkeling begin kan word.
Skriftelike navrae en vertoë waarin verwys word na die tekort aan water vir só ‘n ontwikkeling is aan die Departement van Waterwese en Bosbou, die Departement van Omgewingsake en Toerisme van die provinsie, asook die ontwikkelaar gerig. TLU-SA Noordstreek meen die Departement van Waterwese meer kritiek moet kyk na ontwikkelings wat groot waterverbruikers in veral droë gebiede gaan wees vóór dit goedgekeur word. Volgens TLU-SA is gholfbane se waterverbruik gelykstaande aan die verbruik van besproeiingsinstellings.
In die opvanggebied Tshakuma word die suidelike hange van die Soutpansberg van Levubu af ooswaarts tot by Thohoyandou, geheel en al ontbos en bewerk. Dit hou ‘n ernstige gevaar in van slikafvoer wat strukture in en onder die hange, asook die Nondoni-dam bedreig, sê Dries Joubert, TLU-SA Noordstreek.
Redelike ernstige slikglippe het reeds tydens die vloed in 2000 daar voorgekom.
Tydens samesprekinge met die provinsiale regering, het die LUR vir landbou, me Dikeledi Magadzi, erken dat die regering oor die toestand bekommerd is. Volgens haar is daar begin met ‘n projek om permanente gewasse, soos mangobome, aan te plant om die probleem te bestry, maar volgens Joubert het die projek egter tot stilstand gekom.
Limpopo beleef nou ‘n derde jaar van droogte. In sekere gebiede word vrugteboorde nie meer besproei nie en voer vir vee en wild het boere al derduisende rande uit die sak gejaag.
Volgens mnr Amelius Muller, streekbestuurder van damme by die Departement van Waterwese en Bosbou, pas die departement streng maatreëls toe met die toekenning van lisensies, veral met betrekking tot die hoeveelheid water wat vir die ekologie agtergehou moet word.
Die invloed op bestaande damme en fonteine, asook ander waterverbruikers, word ook ondersoek om te verseker dat ooronttrekking nie plaasvind nie. Muller het bygevoeg dat dit onwettig is indien ‘n ontwikkeling plaasvind sonder die nodige aansoek en óók onwettig indien wel aansoek gedoen is, maar dit nog nie goedgekeur is nie.