General

Gholfklub vier veertigste verjaarsdag

THABAZIMBI – Na ‘n baie stil Augustusmaand, kon die gholfklub September op ‘n hoë noot begin. Die klub is vanjaar 40 jaar oud en die geleentheid is die afgelope naweek met groot luister gevier.
Die Gholfklub was vereer met die teenwoordigheid van Dries de Ridder en sy vrou. Hy het vertel hoedat hy, ‘n mnr Grobbelaar van Rooiberg en ‘n mnr Pieterse van Rooidam met die hulp van ‘n paar arbeiders die gholfbaan aanvanklik met die hand uit die bos gekap het.
Dries het darem later die hulp van ‘n “ou Bulldozertjie” van mnr Alex Groenewald ingespan. Hy het ook hulde gebring aan van die ander pioniere, Floors Stopforth, Bertus Britz en Mike Dietz. Dirk en Almarie van Rooyen en Tokkie Theunissen was ook daar.
Tokkie se man, wyle oom Nick, was ook een van die baanbrekers van Yskor en die gholfbaan. Koos Cronje, ‘n vorige mynbestuurder, en sy vrou, Daleen, het die Gholfklub ook vereer met hul teenwoordigheid.
Verlede Vrydag betree die gholfbaan ook ‘n nuwe era met die ontvangs van vier nuwe gholfkarretjies. Al vier die karretjies was dan ook dadelik bespreek vir die volgende dag se spel. Johan Britz, tans van Potchefstroom, het die dag geborg ter nagedagtenis aan sy vader, Bertus Britz.
Tersia, sy vrou, en hul seuns was ook teenwoordig en almal het deelgeneem aan al die verrigtinge. Dust-A-Side het verlede Donderdag en Vrydag die hele parkeerterrein behandel, wat ook die voorkoms van die klub aansienlik verbeter.
Met Saterdag se spel het 72 spelers, lede en besoekers deelgeneem aan die Bertus Britz Borgdag.
Die formaat was ‘n Vierbal Stableford Alliansie, met twee tellings om te tel en ‘n keuse bofhou. In heerlike lenteweer op ‘n pragtige gholfbaan, was dit uiteindelik die span van Marina van der Wateren, Winnie Fourie, Tertia en André Britz wat met 104 punte die eerste prys wen.
Tweede, op 101 punte, was die span van Vollie Volschenk, Denis Dreyer, Kerneels Viljoen en Corlia Williams. Org Basson, Cobus Dippenaar, Schalk van der Walt en Toppie Olivier was derde met 100 punte. Vier spanne wat op 98 punte eindig, deel die vierde plek.
Die aand is die nuwe braaigeriewe ook amptelik in gebruik geneem. Louis het die vleispakkies verskaf en ook vir die bykosse en heerlike brood gesorg. Hy het ook die halfweg vir die dag voorsien.
Die baan was in puik toestand en alle eer aan Eddie Williams en sy span. Irma Schlebush en haar span het die saal met smaak voorberei. Die Gholfklub en komitee is baie dank verskuldig aan almal wat bygedra het om die naweek so ‘n sukses te maak.