Abraham Kriel Kinderhuis in nood
Die Abraham Kriel Maria Kloppers Kinderhuis verkeer in groot nood. Sedert September 2004 is die kinderhuis in ‘n kontantvloeikrisis. In die vorige boekjaar het hulle met ‘n tekort van R2.1 miljoen afgesluit.
Dit terwyl daar vroeër dié week in Die Beeld berig is dat die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling in die pas afgelope boekjaar R186 miljoen aan konsultante en spesiale dienste bestee het terwyl dit hulp aan ouetehuise en weeshuise gesny het.
Die departement het in die boekjaar 2004/2005 ook R20.6 miljoen aan personeel se reis- en verblyfskoste bestee, R17.3 miljoen aan kommunikasie en R2.7 miljoen aan ‘n onthaalrekening.
Daar word verder berig dat die departement vroeër vanjaar die geldsteun aan nie-regeringsorganisasies – waarvoor sowat R347 miljoen begroot is – volgens die DA met 25% moes sny aangesien die departement nie betyds daarvoor begroot het nie.
Dít het verlede week aan die lig gekom toe die departement die jaarverslag aan die provinsiale wetgewer voorgelê het en die ouditeur-generaal sy ouditverslag daaroor met ‘n lang lys klagtes en bekommernisse moes kwalifiseer.
Luidens dié verslag is korrupsie, swak finansiële bestuur en algemene wanadministrasie die grootste oorsake van die departement se benarde finansiële posisie. Die departement het ook ongemagtigde uitgawes van R300 miljoen aangegaan.
Volgens me Marieta Kemp, SA Vrouefederasie in Pretoria, het die departement ‘n aantal kenners reuse bedrae betaal om die staat te oortuig dat kinderhuise wél in die moeilikheid is. “Iets wat ons verniet vir hulle kon gesê het,” het Kemp gesê.
Die skakelbestuurder van die Abraham Kriel Maria Klopper Kinderhuis, Hilda du Toit, sê dat staatsbydraes in die laaste 12 jaar slegs twee maal verhoog is en dek deesdae minder as ‘n derde van die koste per kind. Hul reeds beperkte kosbegroting moes nou noodgedwonge met ‘n verdere 2% gesny word. Salarisse en bonusse aan hul personeel is ook nou gevries.
Du Toit sê geen enkele persoon kan die finansiële krisis bylê nie, maar as baie mense net ‘n bietjie help, kan dit die krisis help ontlont. Enige persoon wat ‘n finansiële bydrae tot dié kinderhuis wil maak, kan hul donasies inbetaal aan AKMK Kinderhuis, Absa Brixton, takkode – 516005, rekeningnommer – 140941336. E-pos jou transaksierekord aan info@kinderhuis.co.za of faks dit na (011) 839 1080.