Eiendomsmark op Thabazimbi lewendig
Die eiendomsmark op Thabazimbi groei vinnig danksy verhoogde mynbedrywighede sowel as “leefstyl-aankope” van wildsplase en dorp.
Die onlangse vrystelling van meer as 1000 nuwe erwe deur die munisipaliteit is ‘n aanduiding van die omvang van die vraag na nuwe behuising soos wat mynwerkers en hulle gesinne uit die Vrystaatse goudvelde na die gebied stroom, sê Bertus Bezuidenhout, hoofagent van die plaaslike Aida-kantoor.
“Die platina-, ystererts- en chroommyne in die omgewing is besig om uit te brei en stel nuwe personeel aan, en daar is ook berigte dat diamantpype in die omgewing binnekort geëksploreer aan word.
“Vraag is verder aangewakker deur beleggers wat aftree-eiendom koop en daar is reeds ‘n aantal nuwe woonontwikkelings aangepak om in die vraag te probeer voorsien. Pryse het vinnig gestyg en selfs die ou giet-sement Iscor-huise, algemeen bekend as ‘bomskuilings’, word nou vir R400 000 en meer verkoop. Pryse vir gemiddelde drie-slaapkamerhuise wissel nou tussen R500 000 en R700 000.”
Kleinskaalse ontwikkelings van luukse eenhede, wat teen meer as R2 miljoen stuk verkoop, is ook besig om ‘n verskyning op die dorp te maak, sê hy.
Terselfdertyd word boere deur stygende vraag na kleinhoewes gemotiveer om hulle plase te onderverdeel. “Pryse wissel aansienlik, afhangende van ligging en verbeteringe. Ons het pas ‘n onontwikkelde stuk grond van 10ha, wat in vier eenhede verdeel is, aan ‘n enkele koper vir R1,2 miljoen verkoop weens die panoramiese uitsig oor die Kransberg. En ‘n naburige 10ha kleinhoewe met ‘n huis is vir R950 000 verkoop.”
Aida Thabazimbi, wat net ‘n jaar gelede geopen het, is ook besig om die mark vir luukse wildsplase en lodges binne te dring, sê Bezuidenhout. “Ons het onlangs ons eerste lodge vir R2,3 miljoen verkoop. Die koper was ‘n Italianer wat ons in reaksie op ons internet advertensies genader het.” Pryse vir wildsplase en lodges wissel tussen R4000/ha vir onontwikkelde plase tot R10 000/ha en selfs R15 000/ha vir lodges.
Bezuidenhout het ook die lisensieregte vir nabygeleë Ellisras bekom en gaan binnekort op die dorp open. “Dié mark is uiters lewendig danksy die opgradering van die Themba kragstasie en verhoogde produksie by die Grootegeluk steenkoolmyn. Verlede jaar is 1100 huise ter waarde van altesaam R213 miljoen op dié relatiewe klein plattelandse dorpie verkoop,” sê hy.