Health

380 moontlik al besmet met tifoïedkoors

DELMAS – Die mense hier leef in vrees nadat nie minder nie as 18 mense reeds met vermoedelik tifoïedkoors (ingewandekoors)in private hospitale alleen opgeneem moes word en ‘n verdere 380 mense is dalk al besmet. Dit is volgens ‘n berig wat die afgelope week in Die Beeld verskyn het.
Tifoïedkoors word veroorsaak wanneer water met Salmonella tifi-bakterieë besmet is. Enigiemand wat van die water drink of aan iets vat wat met die besmette water in aanraking gekom het, kan besmet word. Sonder behandeling kan dié siekte tot septiese skok, orgaanskade en uiteindelik die dood lei, maar volgens ‘n mediese dokter sal geen mens wat behandeling kry, daarvan doodgaan nie.
Nege mense van Delmas, onder wie vyf volwassenes en vier kinders, is Dinsdag in die Parklands-kliniek in Springs opgeneem ná die vermoedelike uitbreking. Nog ‘n man, wie se identiteit nie bekend gemaak kan word nie, is reeds met die siekte gediagnoseer en is tans in ‘n stabiele toestand in die waakeenheid van dié kliniek.
Enigiemand wat in die Delmas-omgewing was en koors en maagpyn of -krampe of naar is, moet dadelik by ‘n dokter uitkom. Enige van dié simptome moet nou as tifoïedkoors beskou word.
Me Gladys Sibeko, bestuurshoof van die departement van plaaslike regering in Mpumalanga, het bevestig die probleem lê by Delmas se watersuiweringswerke en dat ‘n taakspan reeds Dinsdag in die gebied was om die probleem te help oplos.