Health

Beesvleis en voedingswaarde – die feite

Min Suid-Afrikaners sal ‘n lekker stuk beesvleis kan weerstaan.  Beesvleis is deel van die Suid-Afrikaanse kultuur van onthaal en gesellige gesinsbyeenkomste.  Daar is egter ‘n wanpersepsie dat beesvleis nadelig vir ons gesondheid is en word geassosieer met toestande soos koronêre hartvatsiektes, hoë cholesterol, artrites, kanker en oorgewig. Dit is nie waar nie.
Baie van die wanpersepsies oor beesvleis is ongegrond en gebasseer op onvoldoende en onvolledige inligting. Wetenskaplike navorsing ontwikkel voortdurend en daar is bewys dat rooivleis insluitende beesvleis, nie so skadelik is soos vroeër aanvaar nie.
Beesvleis was beskou as ‘ongesond’ as gevolg van die versadigde vet en cholesterol inhoud daarvan. Hierdie twee vette verhoog die risiko vir koronêre hartvatsiektes – een van die hoofoorsake van sterftes in Suid-Afrika. Versadigde vet word ook verder geassosieer met ‘n verhoogde risiko vir kanker, insulienweerstandigheid en hoë bloeddruk, en ons word dus aangemoedig om versadigde vet in die dieet te beperk.
Alle vleisprodukte bevat egter nie dieselfde hoeveelheid versadigde vet en cholesterol nie. Maer beesvleissnitte soos kruisskyf, fillet, lende en ander – waarvan die sigbare vet verwyder is, se vetinhoud is baie laer as produkte soos ribbetjies, wors en ander snitte. Navorsing het bewys dat maer vleissnitte suksesvol deel kan wees van ‘n gebalanseerde eetplan wat ontwerp is met die doel om cholesterol te verlaag en hartvatsiektes te voorkom. In ‘n spesifieke navorsingstudie is maer hoendervleis en maer beesvleis as hoof proteïenbronne in die dieet gebruik. Die studie het getoon dat albei die produkte cholesterol vlakke ewe veel verlaag. Dit is goeie nuus vir díe van ons Suid-Afrikaners wat goeie beesvleis geniet!
Die negatiewe assosiasie met beesvleis is hoofsaaklik gebasseer op die wanpersepsie dat die vet in beesvleis 100% versadigde vet is. Navorsing in terme van voedselsamestelling het egter getoon dat beesvleis nie alleenlik versadigde vet bevat nie, maar ook ‘n persentasie poli-onversadigde en mono-onversadigde vette. Terwyl versadigde vette wel as ongesond bewys is, is poli-onversadigde en mono-onversadigde vette essensieel vir gesonde selmembrane, senuwee- en breinweefsel. Verder bestaan ongeveer een derde van die versadigde vet in rooivleis uit steariensuur, wat geen effek op cholesterol het nie. So, ten minste die helfte van die vet in rooivleis is goed vir jou en jou hart!
Baie mense verkies om n vegetariese dieet te volg as gevolg van die wanpersepsie dat dit ‘n gesonder lewenstyl meebring.  aas word dikwels as die hoof proteïenbron in ‘n vegetariese dieet gekies. Die meeste kaassoorte bevat egter meer cholesterol en versadigde vet as ‘n stuk maer beesvleis. Beesvleis is verder ook ‘n uitstekende bron van yster en sink. Vegetariërs sukkel dikwels met ystertekorte en lae sinkvlakke, omdat proteïene wat in plantvoedsel voorkom, min yster en sink bevat. Hierdie nutriënte word ook swakker geabsorbeer vanuit die plantproteïene as die vanuit die dierlike proteïene.
Beesvleis is nie die euwel soos geglo is nie en is selfs goed vir jou as dit deel vorm van ‘n gebalanseerde dieet waarin versadigde vetinname beperk word. Beesvleis kan beslis nie geblameer word vir al die gesondheidsprobleme van die moderne samelewing nie en ten minste 50% van die vet in beesvleis kan selfs beskerming bied teen hart en ander lewenstylsiektes.