Mnr, Mej Skou sorg weereens vir hoogtepunt
THABAZIMBI – Die Thabazimbi Skou het soos gewoonlik Donderdagaand met een van die hoogtepunte, die aanwysing van Mej en Mnr Thabazimbi, afgeskop.
Die deelnemers het, nieteenstaande die koue, met hulle yl klere hulle passies op die loopplank uitgehaal. Al was dit vir ‘n paar van die meisies en manne hul eerste keer op die loopplank, het alles goed afgeloop en is hulle telkens met luide toejuiging begroet.
Die keuses van Mej Thabazimbi, Karina Botha en Mnr Thabazimbi, Shawn Anderson, het duidelik die goedkeuring van die gehoor weggedra en is ‘n bewys dat Thabazimbi oor baie talent beskik. Die oorhandigings is deur verlede jaar se Mej Thabazimbi, Kelly Herholdt, wat ook een van die beoordelaars was, gedoen.
Die beoordelaars het ook twee Mej Suid-Afrika finaliste, beide van Thabazimbi, ingesluit. Hulle was Gale Doughty, tans ‘n finalis en Stephanie Grobbelaar, ‘n voormalige Mej Noord-Wes. Die ander beoordelaar was Belinda Loots, ook ‘n voormalige Mej Thabazimbi.
Die aand se hoofborg was Thaba Spar terwyl talle kleiner borge vir ander pryse gesorg het. Studio III was die aanbieder van die kompetisie en Peter de Beer van Studio III het as seremonimeester tydens die kroning opgetree. Die sanger, Lourens van Pietersburg het vir musiek gesorg. Die gehoor is ook vermaak met ‘n kort eenbedryf deur die RiVo toneelgeselskap van Thabazimbi.