Veedief skuldig bevind

THABAZIMBI – ‘n Man wat hom na bewering in 2004 voorgedoen het as ‘n voornemende koper van die plaas Bellevue in die Makoppa omgewing, is op 8 Julie 2005 in die Thabazimbi streekhof skuldig bevind aan veediefstal. Die beskuldigde, Frans Strydom, ongeveer 39, is tot drie jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar en R10 000 boete gevonnis.
Die beskuldigde het die eienaar van die plaas, mnr Danie van Jaarsveld, verseker van sy finansiële welstand deur voor te gee dat ‘n myn in Kanada mineraalregte by hom gekoop het en dat hy die R4 miljoen koopprys binnekort sal vereffen. Strydom het van Jaarsveld oorreed om hom en sy gesin intussen (einde Junie 2004) op die plaas te laat woon totdat sy geld oorbetaal word.
Van Jaarsveld het die beskuldigde teen einde Julie genader aangesien geen oorbetalings nog ontvang is nie. Strydom het egter beweer dat die myn hom “gedrop” het en dat hy nog tyd nodig het om sy geld in die hande te kry.
Van Jaarsveld se prokureur het intussen briewe aan Strydom gestuur ter bevestiging van sy finansiële welstand wat die beskuldigde nie kon lewer nie. Van Jaarsveld het sy prokureur opdrag gegee om die saak verder te ondersoek en na bewering het die prokureur vasgestel dat dit reeds die derde plaas is wat Strydom voorgegee het om te koop met katastrofiese gevolge. Die ander twee plase was in Potgietersrus en Naboomspruit.
Van Jaarsveld het Strydom en sy gesin deur middel van sy prokureur opdrag gegee om die eiendom teen einde Augustus 2004 te verlaat. Die plaasvoorman het met die hele sak patats uitgekom en bevestig dat Strydom onwettig gejag het.
Volgens van Jaarsveld is daar toe vasgestel dat R110 220 se verliese gely is as gevolg van die onwettige jag op sy plaas. Op 1 September het hy ‘n veediefstal saak teen Strydom geopen en die saak is deur die Nylstroom veediefstaleenheid ondersoek.