Health

Spykerwurm maai onder kleinvee

Bron – Landbouweekblad

Wild- en veeboere in die Oos-Kaap en Karoo het vanjaar aansienlike verliese gelei nadat spykerwurm uit die bloute weer sy opwagting gemaak het. Hoewel dit volgens sommige aan aardverwarming toegeskryf kan word, glo ander dit word deur wild uit die noordelike provinsie ingebring.
Die verskyning van spykerwurmbrommers, wat net op lewende weefsel teer, het die meeste boere in die Oos-Kaap en Karoo vanjaar onkant betrap. Hoewel die ouer boere daarvan kennis dra, was dit vir die talle van die jonger garde ‘n onbekende plaag.
Mnr Hannes Vlok, die Oos-Kaapse streekbestuurder van Pfizer dieregesondheid, sê enige boer wat goeie bestuur toepas, sal gou agterkom wanneer mak vee deur hierdie parasiete toegetakel word. Dit is egter baie moeilik om die plaag by wild te bestry. “In die meeste gevalle vind boere net die dooie wild. Hoewel die plaag hoofsaaklik by wild en grootvee voorkom, is kleinveeboere ook vanjaar daardeur geraak.
Die brommers, wat deur wild versprei word, lyk op die oog af byna net soos gewone brommers wat by skape voorkom. Die spykerwurmbrommer het ‘n kort lyf, ‘n blou metaalagtige kleur, ‘n geel gesig en bruinerige oë. Die wyfie kan tot 500 eiers op ‘n slag in enige soort wond lê, selfs in ‘n klein gaatjie op die vel wat deur ‘n bosluisbyt veroorsaak is.
Die spykervormige larwes broei binne 20 uur uit en boor daarna die wond binne waar hulle op die bloedserum en toksiese uitskeiding teer. Hulle val na drie tot vier dae van die dier af om hul lewensiklus te voltooi. “Indien die wond nie behandel word nie, kan die dier uiteindelik weens bakteriese besmetting vrek.”
As ‘n voorkomende maatreël beveel hy aan dat alle diere gedip word met ‘n middel wat ook vir spykerwurms geregistreer is. Die boer moet die wonde met ‘n antibiotiese spuitmiddel behandel. “Die larwes sal ook deur enige middel wat vir die bestryding van gewone brommers geregistreer is, uitgewis word.” Indien die diere egter siek en die wonde reeds septies is, moet die diere met ‘n antibiotikum ingespuit word.