Sport

Gholfnuus

Thabazimbi – Die ondersteuning van die Diakonie van die Gereformeerde Kerk se borgdag wat verlede Saterdag aangebied is was teleurstellend. Vir die spelers wat wel gespeel het was die dag egter ‘n besondere geleentheid, veral wat die pryse en die heerlike braai betref. Baie dankie aan André van der Walt en sy span wat vir die reëlings verantwoordelik was.
Peter Morkel, met 41 punte wen ‘n Koedoe. Ander wenners was N Oosthuizen (37), Toppie Olivier (36), Ken Ingham, Piet Venter, Wynand Lourens, en Daan Lotheringen almal op 34 punte. Sondag, op Lost City, speel ons ligaspan gelykop teen Mogol.
Die tweedebeen van die Eklektiek is nou ook afgehandel en die wenners daar is Pietie Terblanche en Jakkie van der Wateren saam op 57. Nico van der Westhuizen op 60 is derde. Die derde en laaste been vir 2005 is dan nou ook aan die gang en eindig op 31 Oktober.
Twee belangrike datums wat lede nou al moet vasknoop is 17 Augustus en 3 September. 17 Augustus is dit die Algemene Jaarvergadering die middag na die Pick ‘n Pay Sundowner. Soveel moontlik van u moet asseblief teenwoordig wees. Op 3 September gaan ons ‘n groot borgdag aanbied ter viering van ons klub se veertigjarige bestaan. Al die lede moet die dag daar wees en bring ook al die oud-lede wat u van weet saam.
Die program vir Augustus sien so daaruit:
Saterdag 6 Augustus: Individuele Puntespel.
Dinsdag 9 Augustus: Drie Hansies en ‘n Grietjie, ‘n vierbal Alliansie. Dit gaan sport wees!
Saterdag 13 Augustus: Maandelikse Slagspel.
Woensdag17 Augustus: Pick ‘n Pay Sundowner en daarna die Algemene Jaarvergadering.
Donderdag 18 Augustus: Sages speel op Warmbad.
Saterdag 20 Augustus: Bosveldliga hier by ons.
Vrydag 26 Augustus: Interaksie Gholf.
Saterdag 27 Augustus: Dames Liga hier by ons. Na 12 sal daar egter geleentheid wees om IPS te speel.
Die besoekers wat Saterdag hier gespeel het was baie beïndruk met ons baan en het dit as een van die beste bane wat hulle nog gespeel beskryf. Hulle was ook besonder beïndruk met die setperke. Al die eer gaan aan Eddie Williams en sy span vir hulle harde werk. Die nuwe vlaggies lyk ook goed.