Santa Gertrudis by die skou te sien
King Ranch in Texas het hulle in die jare 1915 tot 1920 op ‘n kruispad bevind wat betref hulle telingsprojek. Die Britse rasse wat hulle in daardie tyd gebruik het, kon nie die uiterste klimaatstoestande wat hulle in daardie deel van die land ondervind, hanteer nie. Hulle het toe besluit om hulle eie ras te ontwikkel. Deur noukeurige genetiese beplanning is ‘n bulkalf, genoem Monkey, in 1920 gebore waarvan die genetiese samestelling 3/8 (37.5%) Brahman en 5/8 (62.5%) Korthoring was.
Hierdie individu is die fondasie vader van die hele Santa Gertrudis ras geteel in die westelike halfrond en dit bly steeds die enigste ras wat teruggevoer kan word na ‘n enkele vader. Vandag floreer die Santa Gertrudis in alle dele van Suid-Afrika omdat hulle maklik aanpas onder alle klimaatstoestande.
Die Moderne Santa Gertrudis is medium raam diere met volwasse bulle wat tot 1000kg weeg en koeie tot 600kg. Hulle is baie goeie weiers (nie-selektief) met uitstekende loopvermoë sodat hulle lang distansies kan loop op soek na kos en water.
Die moderne Santa, met sy donkerrooi, gladde haar, goed beskermde oë en sterk bene en pote is ideaal vir enige toekomstige Suid-Afrikaanse tendens. Hulle is medium/vinnig volwasse, is baie meer gespierd as die diere wat in 1970 ingevoer is en definitief beter aangepas by ons uiterste klimaatstoestande.
Santa speenkalwers, suiwer of kruisings, groei altyd vinnig in voerkraal groeitoetse: gewigstoename van tot 2kg per dag is alledaags en is hulle ook hoog in aanvraag weens hulle hoe uitslagpersentasie, so hoog as 65% is al behaal.