General

Bring jou kant om kankerlyers te help

“Help ons om kanker te bestry en lewens te red”.
Dit is die boodskap van die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) wat vrywilligers vra om deel te word van hulle “Champions 4 CANSA”-veldtog tydens Kankervoorkomingsweek van 1 – 7 Augustus.
Gedurende dié week met die tema “Mense wat met Kanker Leef”, sal KANSA-personeel landwyd bewustheid verhoog deur gesonde leefstylkeuses tydens voorleggings, praatjies en uitstallings te bevorder.
“KANSA sal oral vrywilligers werf – van maatskappye en gesondheidsinstellings tot skole en geloofsinstansies – om te help om ‘n boodskap van hoop te versprei. ‘n Kankerdiagnose is nie ‘n doodsvonnis nie, maar die begin van ‘n nuwe lewenswyse,” aldus KANSA HUB Niamaat Gamildien. Tree met jou naaste KANSA-kantoor in verbinding om vas te stel hoe jý kan help om mense met kanker te ondersteun.
Suid-Afrikaners moet self hulle risiko om kanker te kry verminder deur gesonde leefstylkeuses te maak soos om nie te rook nie; gesonde kos te eet (vetarm, veselryk); baie vars water te drink; hulle tyd in die son te beperk; gereeld te oefen; maandeliks self-ondersoek te doen en gereeld mediese toetse te ondergaan.
Hoe vroeër kanker opgespoor word, hoe beter die kanse op volkome herstel. Èén sterfte as gevolg van kanker is een te veel. “Ons kán kanker bestry as ons saamstaan”.
KANSA is ‘n Nie-Wins Organisasie wat 75 jaar gelede gestig is en staatmaak op fondsinsamelingsprojekte en donasies van maatskappye en individue om gemeenskapsopvoeding en ondersteuningsdiente in alle gemeenskappe in die land te verskaf. Vir advies of inligting oor kanker en KANSA-dienste; om ‘n donasie te maak; of om deel te word van die “Champions”-veldtog, skakel hulle tolvry Inligtingsdiens by 0800 22 66 22, besoek www.cansa.org.za, of kontak jou naaste KANSA-kantoor.
Kansa Waterbergstreek, 38 Friedbergweg Nylstroom, tel: 014 717 4741