General

Limpopo Brahman Kampioenskappe in die bosveld

THABAZIMBI – Die Limpopo Kampioenskappe van die rooi en wit brahmane, vind vanjaar tydens die Thabazimbi Landbou- en Nywerheidsgenootskap se skou plaas.
Ongekende belangstelling het daartoe bygedra dat daar reeds meer as 250 brahmane ingeskryf is. Inskrywings van sover as Biesiesvlei, Lichtenburg, Dendron, Rustenburg, Tzaneen, Bronkhorstspruit en Wolmaranstad is ontvang.
Die kompetisie tussen die verskillende telers gaan vanjaar baie straf en interessant wees. Die publiek kan reeds Woensdag 3 Augustus vanaf 15:00 die beoordeling van die groepklasse kom besigtig.
Die beoordeling van die individuele klasse begin Donderdag 4 Augustus en sal die hele dag duur. Vrydagoggend om 10:00 begin die interras kampioenskappe wanneer die verskillende rasse se wenners teenmekaar te staan sal kom.
Ander rasse soos die Simmentalers, Limousines, Afrikaners, Santa Gertruidis en Simbras sê mekaar ook die stryd aan. Alhoewel Thabazimbi bekend staan as ‘n wild- en eko-omgewing, is die getal beesinskrywings vanjaar naas Pretoria en die Royal Skou in Pietersburg, die grootste in die land.