Minder stof by skou
THABAZIMBI – Besoekers by die Landbou en Nywerheid Skou kan vanjaar verseker wees van baie minder stof. Dit is danksy Kumba wat die terrein se paaie behandel het met DAS (Dust-A-Side).
Kumba gebruik reeds sedert 1999 DAS om stof te bekamp en beskik oor 38 km paaie wat maandeliks met DAS onderhou word. Hierdie produk word gemaak van ‘n mengsel bestanddele wat met water verdun word en dan met ‘n watertrok op die padoppervlak gespuit word.
DAS bind met die vry stofdeeltjies en vorm ‘n vaste laag op die padoppervlak wat voorkom dat stof ontstaan – mens en dier se veiligheid en gesondheid verbeter met 100%. Hierdie produk is by die skougronde gespuit sodat dit aan die publiek bekend gestel kan word en om te verseker dat skougangers die minimum ongerief as gevolg van stof ondervind.
