Brandstofkostes slaan hard
Bron: Landbou Weekblad
Terwyl die Suid-Afrikaanse groothandelprys vir diesel onlangs die eerste keer ooit deur die vlak van R5 per liter gebreek het, styg internasionale ru-oliepryse steeds genadeloos. Ten minste een ekonoom glo die stygings sal nie die volgende twee tot drie jaar volgehou kan word nie.
Die jongste dieselprysstyging jaag die gemiddelde droëland-graanboer se bruto morge met amper R50 per hektaar verder die rooi in, beraam dr Wimpie Nell, lanboubestuurskonsultant en direkteur van die Sentrum vir Landboubestuur aan die Universiteit van die Vrystaat.
Nell bereken dat die verhoging van 52c per liter meebring dat ‘n gemiddelde saaiboer se bruto marge van –R 897 tot –R944 per hektaar verswak en dat dié verhoging die landbou amper R600 miljoen gaan kos.
Mnr Corné Louw, ‘n ekonomm van Graan SA, beraam dat diesel se aandeel in ‘n graanboer se gemiddelde totale lopende koste nou, vanaf 11% in die produksieseisoen 2003/04, tot sowat 17% gestyg het.
Mnr Tony Twine, senior ekonoom van Econometrix en ‘n spesialisontleder van die vloeibare brandstofmark, glo daar gaan verligting kom. Hy meen Suid-Afrikaanse brandstofpryse behoort binne die volgende twee tot drie jaar met sowat R1.05 per liter by die pomp af te koel.
Plaaslike brandstofpryse, dié van diesel inkluis, word hoofsaaklik deur internasionale ru-oliepryse bepaal. Twine meen dié mark is weens spekulasie oorverhit. “En spekulante bly nooit vir altyd nie – hulle kom en gaan.”
Hy glo die heersende ru-oliepryse van ongeveer $60 per vat is nie volhoubaar nie en dat dit oor die volgende twee tot drie jaar sal terugkeer tot $40 of $50 per vat. As die rand-dollar-wisselkoers bly waar hy nou is, beteken elke $1 verandering in die ru-olieprys ‘n daling van 7c per liter in die pompprys van Suid-Afrikaanse brandstof, sê Twine.
Verdere verligting deur ‘n groter afslag vir boere op die belastingkomponent van die dieselprys, kan die prentjie egter verander. Agri SA het pas ‘n voorlegging oor ‘n verhoging van die dieselkorting vir boere aan die Tesourie gedoen. Boere kry nou 71.5c per liter afslag. Hulle vra egter ‘n volle korting wat met verloop van tyd ingestel word.