General

Stil kranse getuig van gif in verkeerde hande

Bron: NTK Nuus, LimpopoAgric, Gerhard Verdoorn.

Stil kranse getuig van gif in verkeerde hande
Sedert die vroegste tye is daar ‘n ongenaakbare stryd tussen die boer en roofdier. Ou jare was die praktyk om gif soos strignien in ‘n karkas te steek aanvaarbaar en ongelukkig het dit net skape, boere, jakkalse en rooikatte in byvoorbeeld die Karoo nagelaat.
Die kransaasvoëls en baie ander aasvreters is deur die vrye misbruik van gifstowwe uitgewis. Om dit om te keer is menslik onmoontlik. Gifmisbruik is baie minder as in die ou dae en daar is ook baie meer waardering vir die klein roofdiertjies wat so ‘n belangrike deel van die ekologie uitmaak.
Soos wat die natuur se siklusse werk, is daar in die laaste paar jaar weer ‘n toename in klein roofdiergetalle in die land. Die meeste boere waarmee ons in die Gifstofwerkgroep te doene kry, byt maar op die tande en vermy die gebruik van gifstowwe teen jakkalse en rooikatte, maar daar is ongelukkig steeds mense wat nog nie die boodskap oor verantwoordelike probleemdierbeheer gehoor het of verstaan nie.
Dit is diésulkes wat sommer enige gif soos aldikarb, karbofuraan, ou paration, diasinon en selfs strignien bloot in ‘n karkas steek of ‘n lokaas in die veld strooi. Die resultate is verdoemend. Gif is ‘n vieslike ding in verkeerde hande en die kranse waar geen aasvoëls meer broei nie, is ‘n getuienis daarvan.
Daar is sekere wette en regulasies wat gifgebruik beheer en enigeen wat gif wil gebruik, moet hom- of haarself eers van sodanige wette vergewis. Om gif teen enige probleemdier te gebruik moet ‘n permit vooraf van die provinsiale bewaringsdepartement verkry word.
Slegs strignien mag op hierdie stadium gebruik word en as dit ooit gebruik moet word, moet die gebruiker maar liefs die Gifstofwerkgroep se hulplyne skakel voordat enige stappe gedoen word.
Lokaas mag nooit in die dag in die veld gelaat word nie, omdat dit ander diere soos roofvoëls aan vergiftiging blootstel. Dooie diere moet opgetel en vernietig word om enige sekondêre vergifting te voorkom. Dis wat die wet en ordonnansies oor strignien sê.
Die praktyk om aldikarb of karbofuraan teen jakkalse en rooikatte te gebruik is heeltemal onwettig en strafbaar met ‘n boete van tot R40 000 en ses jaar tronkstraf. Die Gifstofwerkgroep doen ‘n ernstige beroep op alle mense om die misbruik van aldikarb te staak, want onskuldige roofdiere byt in die stof as gevolg van die gifpille wat rondgegooi word. Roofarende en bleeksingvalke is uiters vatbaar vir vergiftiging deur lokaas en daar is baie rekords deur die Gifstofwerkgroep aangeteken waar sulke voëls hul einde deur gifpille teëgekom het.
‘n Verlies aan roofvoëls spel gevaar vir die boer omdat plaasdiere soos knaagdiere die plaas oorneem en die plek onbestuurbaar maak. Daar is uitkoms vir die probleemdierkwessie en baie ander metodes wat gebruik kan word. Die belowendste metodes is reeds in werking gestel.
Indien boere verdere navrae het kan hulle gerus vir Tim Snow op die Probleemdierhulplyn, 082 463 4104 skakel of vir Gerhard Verdoorn op die Nashua-GWG Natuurlewevergiftingshulplyn by 082 446 8946.