Health

Augustus is tandsorgmaand vir troeteldiere!

Mondsiektes is die algemeenste gesondheidsprobleem wat diereartse by volwasse honde en katte diagnoseer. Dit veroorsaak bloeiende tandvleis, tandbederf, die verlies van tande en die opbou van bakterieë wat jou troeteldier se hart, lewer en niere kan beskadig. Tog, sê dr Guy Fyvie, Hill’s Pet Nutrition se dierekonsultant, kan mondsiektes maklik voorkom word.
Augustus is Hill’s se diere-tandsorgmaand en dus tyd om jou kennis op te knap oor hoe om na jou diere se tande en tandvleis om te sien sodat hulle gesond en gelukkig is. “Jou hond of kat se vrot asem is dalk die eerste teken van ‘n mondsiekte,” sê Fyvie, wat voorstel dat ‘n mens jou dier gereeld deur ‘n dierearts laat ondersoek en ‘n maklike tandsorgroetine tuis volg om daardie bekkie gesond en vars te hou. “Jy kan self jou dier se tande skoonmaak deur dit te borsel of ‘n spesiale kos te gee wat die tande skoonmaak terwyl hy eet. Dié kos is maklik en doeltreffend, en dis bewys dat dit plaak en tandsteen beveg,” sê Fyvie.
” ‘n Sterk immuunstelsel sal jou troeteldier help om siektes te beveg, en daarom is dit ook belangrik om seker te maak die kos wat hy of sy kry, bevat die regte voedingstowwe en is ryk aan antioksidante, vitamiene en minerale.”
“Ons het glad nie geweet ‘n mens kan jou kat se tande skoonmaak nie,” sê Anlie Malherbe, wie se kat, Tracey, ernstige tandvleisprobleme gehad het. “Ons het gesien Tracey eet nie behoorlik nie en sy’t gewig verloor, en was uit die veld geslaan toe die dierearts tandvleisontsteking diagnoseer. Ongelukkig was dit so ver gevorder dat antibiotika nie sou help nie en ons moes al Tracey se tande laat trek.”
“Diere kan nie sê hoe hulle voel nie en steek boonop hulle ongemak goed weg,” voeg dr Fyvie by. “Maar enigiemand wat al tandpyn gehad het, weet hoe seer dit kan wees. Dink net hoe jy sal voel as jy jou tande vir drie jaar nie borsel nie!”
Feitekassie – simptome van mondsiektes
As jy enige van die volgende simptome sien, moet jy dadelik ‘n dierearts raadpleeg:
Slegte asem; rooi, geswelde tandvleis; ‘n geelbruin tandsteenkors al langs die tandvleis; pyn of bloed as jy aan die tandvleis of mond raak; ‘n verandering in eetgewoontes of die manier waarop die dier kou; vryf met die poot in die gesig of mond en lusteloosheid.
Kry by jou dierearts meer inligting oor behoorlike tandsorg vir jou troeteldier asook kos wat die tande skoon hou terwyl hulle eet. Óf jy kan die webwerf www.HillsPet.com besoek óf Hill’s Pet Nutrition se hulplyn, 0800 228 783, tolvry bel.