General

Inbreker in huis betrap

THABAZIMBI – ‘n Vermeende inbreker is Sondagoggend om 02:30 in die De Beer egpaar se huis te Bosbokstraat 20 betrap. Me Susan de Beer sê sy was die nag onrustig nadat hul boerboel aanhoudend geblaf het.
Sy kon egter niemand in hul erf gewaar nie en het hul hond probeer rustig kry.
Die hond het egter later stil geword. Die verdagte het ‘n hout sydeur oopgebreek en so toegang tot hul huis verkry. Hy is eers na hul seun, Wouter (26) se kamer waar hy die kombers van hom afgetrek het. Die vermoede bestaan dat hy die TV stel in die kombers wou toedraai aangesien hulle agterna opgemerk het dat daar met die TV stel gepeuter is.
Hy is vandaar na die hoofslaapkamer waar me de Beer ‘n persoon met ‘n flitslig in die kamer gewaar het. Sy het eers vermoed dat dit haar man is en hom toe aangespreek. Die verdagte het uit die kamer gevlug en me de Beer het dadelik haar man wakker gemaak en gesê iemand is in hul huis.
Hul seun het ook intussen wakker geword en het die verdagte agterna gesit. Hy is die bosse en het in die hardloop die bos sleutels wat hy vasgelê het laat val. Die de Beer’s het by verdere ondersoek vasgestel dat hul hond vergiftig is en dat los goedere in die huis gesteel is.
Volgens me de Beer het hul buurman ‘n verdagte persoon vroeër die nag in sy erf opgemerk en hom verjaag. Die buurman het ook opgelet dat die verdagte uit ‘n stilstaande voertuig aan die oorkant van die straat geklim het.
Me de Beer het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om al hul bure se telefoonnommers byderhand te hou sodat bure mekaar vroegtydig kan waarsku indien daar vreemdelinge om die huise gewaar word.
Sy het ook genoem dat dit nie slegs haar honde was wat onrustig was nie, maar dat die res van die buurt se honde ook lawaai het. Sy maan die publiek om onmiddellik ag te slaan indien hul honde onrustig raak. Selfs al gewaar jy nie iemand nie, en die honde bly onrustig moet jy wéét iewers is daar ‘n teenwoordigheid wat hulle onrustig maak.