Gevare van oorgrensparke
Vervalle heinings en die verlies van vee- en wildbeheer tussen internasionale state kan groot verliese in Limpopo aanrig, dit is volgens TLU-SA Noordstreek. Daar is ook op die gevaar gewys dat indien die heinings beskadig word of verval, die volgende huidig beheerde zones in gedrang kom.
Indien heinings verskuif, word alle vooraf buffer sones geraak. Dit het die potensiaal om ‘n groot negatiewe ekonomiese impak op grondeienaars en kommunale gebiede te hê wat naby die grens ‘n lewe probeer maak.
TLU-SA het gevra of die LUR kan waarborg dat daar goeie beheer sal plaasvind tussen die parke en naasliggende gebiede in veral Zimbabwe en Mosambiek. Daar is verwys na die probleem tussen die Nasionale Kruger Park en die Letaba Ranch waar die heining blykbaar alreeds verval het.
Volgens TLU-SA, word onmoontlike gesondheids- en ekonomiese probleme vir Limpopo verwag indien heinings nie instand gehou word en beheer in en uit die parke (veral in die Zimbabwe en Mosambiek gebied) gewaarborg kan word nie.
Dier tot dier en dier tot mens oordraagbare siektes kan volgens TLU-SA ‘n wesenlike probleem word vir Suid-Afrikaners as die internasionale grensdrade, sonder die nodige voorsorg maatreëls verwyder word. ‘n Hoogsaansteeklike siekte soos Bek-en-Klouseer kom tans volop voor in Zimbabwe en Suid-Afrika geniet tans ‘n Bek-en-Klouseer vrye status.
‘n Uitbraak van die siekte op Suid-Afrikaanse grond kan volgens TLU-SA ernstige ekonomiese gevolge vir die bees-, wild-, uitvoer- en ander bedrywe inhou. Volgens die staatsveearts is miltsiekte (anthrax) tans totaal onbeheerbaar in Zimbabwe. Die verwydering van grensheinings verteenwoordig dus ‘n wesenlike bedreiging vir mens en dier in die Limpopo Provinsie. Die gevaarlike Slaapsiekte wat deur die Tsetsevlieg oorgedra word, sal ook weer in Limpopo kan verskyn aangesien diere vanaf besmette gebiede nou sal kan inbeweeg na die Nasionale Kruger Park.