Allerhande nutshede by Mabula VLU
MABULA – Die dames van Mabula VLU se vergaderings is baie leersaam en met elke vergadering leer die dames ‘n ander vaardigheid.
So het hulle tydens die laaste vergadering geleer om teelepels te versier asook om jou eie kaartjie te ontwerp en te maak. Hulle leer nie net hoe om keurig tafel te dek nie, maar pas dit ook op skinkborde vir pasiënte aan.
Buiten al hierdie dinge weet hulle ook hoe om lekker sosiaal te verkeer en nooi hulle dan ook alle belangstellendes uit om op 18 Augustus saam met hulle by Metzi-Metzi by Vaalwater te kom kuier. Kaartjies vir hierdie uitstappie is by al die VLU lede te koop. Vir meer inligting hieromtrent is u welkom om Corrie van Wyngaardt by 082 291 3253 te skakel.
Die tak het ook die uitslae van hulle kleutertruitjies en kinderrympies ontvang. Sover die truitjies betref het Miek 79%, Kitty 75%, Martie 79% en Ria ook 79% gekry. Miek, Susan, Ria en Kitty het almal 70% en Bettie 72% vir hul kinderrympies ontvang.